Dagstuk | Dinsdag 2 April 2024

Dagstuk | Woensdag 3 April 2024
Dagstuk | Maandag 1 April 2024

Vandag se tema: Sien God my?

Psalm 8:5 & 10. Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde.

Die afgelope tyd het die gebeure rondom Elon Musk se Space X-program en die James Webb teleskoop ons weer in verwondering laat staan oor die omvang van die kosmos. Ook die gedagte dat ons deur  ‘n ruimtesending dalk op die punt staan om die dieper geheimenisse daarvan vir ons te ontsluit. ‘n Mens kom daardeur net weer onder die indruk hoe klein die aarde binne die groter geheel van die kosmos is. Wat dan nog die bestaan van my eie lewe daarbinne! Elke keer wanneer ons na die naghemel opkyk oorval hierdie verwondering en ontnugtering ons weer opnuut. Weet die Here van my? Ek wil jou vandag nooi om anders daarna te kyk. Nie hoog bo na sterre en planete nie, maar na jou duimafdruk. Van al die mense wat ooit op aarde geleef het en nog gebore gaan word, is daar niemand wat ‘n afdruk van hulle teenwoordigheid op aarde kan los soos jy nie! Dit is hieroor dat die persoon in Psalm 8 homself opnuut oor verwonder. Luister mooi na wat die teks sê. Dit is die getuienis van ‘n gelowige wat in verwondering leef omdat hy die Skepper se sorg in sy lewe ervaar. Die Here het nie net sy lewe in die groot kosmos raakgesien nie, maar hy ervaar dat God na hom omsien. Kyk na jou duimafdruk. Sien die eenvoudige lyne en patrone wat oor jou uniekheid getuig en in jou dag die ervaring laat deurbreek dat God na jou omsien.

Gebed

Laat u lig my omring, o God; laat u liefde my omvou, laat u krag my beskerm, laat u teenwoordigheid my verbly, dit vra ek van U, o God van liefde, wat orals is waar ek is.