Dagstuk | Dinsdag 20 Januarie 2026

Dagstuk | Maandag 19 Januarie 2026
Dagstuk | Woensdag 21 Januarie 2025

God in die windstilte

1 Konings 19:12
“Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En ná die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.”

In die gedeelte voor hierdie teks lees ons hoe Elia deur God se krag die Baälsprofete op die berg Karmel oorwin het. Dit was ’n dramatiese, openbare oorwinning wat God se mag duidelik sigbaar gemaak het. Maar kort daarna verander Elia se situasie drasties. Toe koning Agab en koningin Isebel hom met die dood dreig, vlug hy na die woestyn en kruip weg in ’n grot.

Dit is juis daar – in die skuilplek van vrees en uitputting – waar die Here hom ontmoet. Elia sou waarskynlik, in die lig van sy ervaring op Karmel, weer iets indrukwekkends verwag het. En inderdaad beleef hy eers ’n sterk wind, daarna ’n aardbewing en toe ’n vuur. Maar in geen van hierdie kragtige verskynsels was die Here nie. Uiteindelik ontmoet Elia God in die fluistering van ’n windstilte.

Hier leer ons iets diep: God se nabyheid en stem kom nie altyd in die indrukwekkende oomblikke na ons toe nie. Soms kom Hy juis in die stiltes waar ons wegkruip, waar ons bang is, waar ons moeg is, en waar ons sy teenwoordigheid in moeilike en uitdagende tye moet leer onderskei.

Die bekende lied Op berge en in dale verwoord dit so mooi:

Op berge en in dale en oral is my God,
waar ons ook telkemale mag sterwe, daar is God;
waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God,
omlaag en hoog verhewe – ja, oral is my God.

Hoe is die Here besig om jou in die windstilte van jou omstandighede te ontmoet?
Dalk juis daar waar jy tans skuil, waar jou gedagtes sweef en styg oor die plek of situasie waarin jy jouself bevind.

Weet vandag: die windstilte kan jou, op ’n besondere manier, lei na ’n plek van vrede en vertroue.


Gebed

Here God,
U wat nie net in die storm, die aardbewing of die vuur is nie,
maar ook in die sagte, stille fluistering,
leer ons om stil te word voor U.

Help ons om ons verwagtinge neer te lê
en nie net U teenwoordigheid te soek in groot tekens en kragtige dade nie,
maar om U te herken wanneer U sag en naby kom.

In ’n wêreld vol geraas, haastigheid en angs
nooi U ons om stil te staan,
om te luister met oop harte,
en om U stem te hoor wat lewe bring.

Here, open ons ore vir U fluistering
en ons harte vir U teenwoordigheid.
Mag ons, soos Elia, ontdek dat U ons ontmoet in die stilte
en ons daar nuut rig en versterk.

Ons vertrou dat U hier is –
nie ver nie, nie verborge nie,
maar teenwoordig, sag en getrou.

Amen.