Dagstuk | Dinsdag 22 Oktober 2024

Dagstuk | Maandag 21 Oktober 2024
Dagstuk | Woensdag 23 Oktober 2024

https://www.youtube.com/watch?v=eSKipVhZJj0

 

Ons staan steeds stil by Paasfees en ek lees weer vir jou:

SKRIFLESING

Lees Exodus 12:14

En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die Here vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.

 BOODSKAP

Die fees van die ongesuurde brode en gebraaide vleis was die geleentheid om terug te kyk op die uittog uit Egipte, op hulle swaarkry (harde, onsmaaklike brood), en om te onthou van God se wonderlike genade en verlossing. Die belang van die viering van paasfees in die geskiedenis van Israel was baie duidelik: Hulle moes onthou as dit nie vir die Here was nie, sou hulle as slawe in Egipte aangebly het. Hulle moes deur die Paasfees te vier onthou dat God hulle Redder en Verlosser is.

Die volk Israel ken hierdie mismoedigheid. Hulle was onderdruk deur ‘n gewentenlose Farao, wat hulle as slawe mishandel het. Die uitverkore volk van God het geen mag, krag of seggenskap in Egipte gehad nie. Meegesleur deur ‘n vloed van moedeloosheid het hulle sommer ook dikwels hulp gesoek by Egiptiese gode. Maar God het nie Sy volk vergeet nie. Hy hoor hulle hulpgeroep, Hy sien hulle swaarkry in Egipte en Hy gryp in. Om hulle te herinner aan Sy grootheid en dat hierdie verlossingsdaad in Sy mag en krag plaasvind, stel Hy ‘n fees in om hulle daaraan te herinner. So kon hulle dit onthou.

Ons vier nie meer Paasfees soos God dit vir die Joodse volk laat doen het nie. Maar elke Sondag vier ons steeds fees. Elke Sondag herinner die Here ons aan Sy liefde en trou. Wanneer ons elke Sondag eredienste hou, Christelike feesdae, nagmaal, doop vier, is dit alles feesgeleenthede sodat ons kan onthou, God is met ons. Die Christelike feeste en erediens vier  God se verlossingswerk. Ten diepste is die erediens en ander Christelike feeste ’n gemeenskaplike viering van die verlossing.  Die verlossing wat Jesus Christus vir ons bewerk het.

GEBED

Dankie Here, dat ons elke Sondag kan feesvier en herinner word dat U met ons is. Amen