Dagstuk | Dinsdag 23 Julie 2024

Dagstuk | Maandag 22 Julie 2024
Dagstuk | Woensdag 24 Julie 2024

Vandag is Dinsdag 23 Julie en welkom by hierdie week se oordenkings. Komende Vrydag begin die Olimpiese Spele waar ons uitsien om die beste van bestes op die wêreldverhoog te sien. Dit wat ons in die volgende maand op ons skerms gaan beleef, kom nie sonder harde werk nie. Dit verg spanwerk, volharding en uithouvermoë. Daar is hoogte en laagtepunte, beserings en druk van toeskouers en opponente. Gelukkig vir ons het ons ’n afrigter, fisioterapeut en spanbestuurder in ons Hemelse Vader en Hy is altyd aan ons kant en vir ons. Hierdie week kyk ons deur die bril van die Olimpiese Spele na ons eie wedstryd van die lewe.

Vandag se Bybelvers: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan..” – Kolossense 3:23-24

Hierdie verse moedig ons as gelowiges aan om alles wat ons doen, met ywer en toewyding te doen, nie net vir mense nie, maar veral vir die Here. Dit herinner ons daaraan dat ons beloning en erfenis uiteindelik van God kom, en ons behoort Hom te dien met opregte harte en volharding. Waar het jy vandag aanmoediging nodig? Vir wie kan jy vandag aanmoedig en inspireer? Tree vandag vir daardie persoon in gebed in.

Gebed: Here Jesus, ons vra vir u seën oor al die atlete wat hierdie tydperk aan die Olimpiese Spele deelneem. Help hulle om met passie en deursetting te kompeteer, en om u eer altyd in gedagte te hou. Mag ons saam met hulle ook ‘n voorbeeld wees van u liefde en vrede vir almal wat ons ontmoet. Amen.