Skriflesing: Psalm 19:2
“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”
Die skepping openbaar God se wysheid, mag, kreatiwiteit en skoonheid. Die natuur is ‘n sigbare getuienis van hoe groot en magtig die Skepper is. Die prag van die skepping lê in die wonderbaarlike verskeidenheid en fyn balans van die natuur. Dit strek van die kleinste detail in die heelal tot ons onmiddellike omgewing en herinner ons aan die grootsheid van die lewe en die diep, persoonlike verbondenheid wat ons daarmee deel.
Die skepping dien as ‘n tasbare bewys van God se almag. Van die ontsaglike sterrestelsels tot die delikate balans van die natuur verkondig alles dat Hy die Almagtige Skepper van die heelal is. Sy magtige handewerk en oneindige kreatiwiteit wek by die mens ‘n diepe verwondering en ontsag. Wat ‘n voorreg is dit nie dat ons die mooiheid daarvan kan beleef nie!
Wanneer ons kyk na alles wat die Here gemaak het, behoort dit ons harte met verwondering te vul. Van die kleinste organisme tot die grootste sterrestelsel; van die wonder van ontkieming, groei en vrugbaarheid tot die interafhanklikheid van organismes wat ‘n gesonde ekosisteem moontlik maak; van die wonderwerk van ‘n babatjie se geboorte tot die unieke skoonheid van elke blom en dier. In elke geskape ding het God iets van sy krag, wysheid en liefde vasgelê.
Die skepping getuig elke dag van sy grootheid. Mag jy vandag opnuut die mooi in God se skepping raaksien en daarin sy teenwoordigheid, sorg en heerlikheid ontdek.
U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape, en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.
(Open 4:11) AMEN