Vandag is Dinsdag 24 Desember en ons is die week sterk oppad na Kersdag waar Jesus, God Homself wat oor grense beweeg het, mens geword het en tussen ons kom woon het.
Om die diep betekenis verder te verken, staan ons vandag stil by hierdie geskenk van liefde.
Teks: Johannes 3:16
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Kersfees is die viering van God se onmeetbare liefde. Deur Jesus het Hy Sy liefde sigbaar gemaak. God se liefde is onvoorwaardelik en vrygewig. Om dit te ontvang, beteken dat ons hierdie liefde ook vryelik moet uitdeel aan ander. Iemand sê liefde is nie net iets wat ons voel nie; dit is iets wat ons doen.
Inspirasie:
Dink aan hoe die geskenk van Jesus mense verander het. Hierdie liefde is kragtig genoeg om wonde te genees, harte te verander en vrede te bring. Hoe kan jy hierdie liefde uitleef?
Gebed: Here, dankie dat U liefde so groot is dat U u Seun gegee het. Help ons om U liefde te ontvang en dit met ander te deel, sodat hulle U ook kan leer ken. Amen.