Dagstuk | Dinsdag 24 Junie 2025

Dagstuk | Maandag 23 Junie 2024
Dagstuk | Woensdag 25 Junie 2025

Efesiërs 5:19 – Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.

DANKBAARHEID IS ‘N KEUSE

Dankbaarheid is ‘n lewensbesluit wat ons daagliks moet neem; dis die keuse wat ons elke dag maak. M.a.w. keuse tussen dankbaarheid en ondankbaarheid tussen negatiwiteit en positiwiteit . . .  tussen misrabelheid en om gelukkig te wees. Een van die geheime van ‘n gelukkige lewe is dankbaarheid ten spyte van ons omstandighede. As ek en jy dit kan regkry om met dankbaarheid te leef, verander dit die manier hoe ons na die wêreld kyk. Dan begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en sien ons die seën wat ons beleef, raak.

Dankbaarheid laat jou anders na ‘n moeilike situasie kyk. Daar’s mos verskillende soorte tye en omstandighede in ons lewens – tye van voorspoed en tye van teëspoed; tye van lag en tye van huil; tye waarin jy positief opbou en tye waarin jy net moet keer dat alles nie inmekaar stort nie; tye van gunstige omstandighede, maar ook tye waarin omstandighede nie gunstig en maklik is nie. Maar in alles (beveel die Here) moet ons dankbaar bly.  Daarom is dankbaarheid ‘n keuse. Kyk ons verby die donker wolke en begin ons die silwer randjie raaksien. Die werklikheid is steeds daar, maar dankbaarheid het die vermoë om ons perspektief te verander en daarom verander dit óns.

Ons moet versigtig wees vir die negatiewe sneeubal-effek wat jy so baie kere selfs by kinders van die Here kry: jy begin al hoe meer kla oor alles wat nie vir jou lekker is nie; hoe meer jy kla, hoe minder word jou dankbaarheid en jou danksegging teenoor die Here; hoe minder jy dankie sê, hoe minder sien jy die dinge raak waarvoor jy dankie behoort te sê; hoe minder jy sulke dinge raaksien, hoe meer ontevrede en onvergenoegd en gefrustreerd word jy met jou lewe en nou kla jy nog meer!

Dit maak nie saak wat op die oomblik in jou lewe aangaan of wat jou omstandighede is nie. As jy vandag besluit om jou fokus van jou krisis, jou bekommernis, jou negatiwiteit na dankbaarheid te verskuif, sal jou gemoed verander en jy ligter, vryer en gelukkiger voel. As jy besluit al gaan dit hoe moeilik ek gaan nie dat die vyand my vreugde en dankbaarheid steel nie sal jy sommer begin beter voel. Dis baie belangrik om te onthou dankbaarheid is ʼn keuse. Ons kan dus kies om te midde van moeilike omstandighede, steeds dankbaar teenoor God te wees.

Die bogenoemde skrif sê dat ons die Vader altyd vir alles moet dank. Dit beteken dat ons die Vader moet dank al is ons nie lus nie en al voel ons nie só nie. Ons moet nie net in elke omstandigheid dankbaar wees nie, ons moet ook dankbaar wees vir die omstandighede. Jy is nie nou skielik dankbaar vir die siekte nie, jy is dankbaar dat God saam met jou in die situasie is en dat Hy in staat is om jou daar uit te help. Dit beteken dat jy dankbaar is dat alles ten goede vir jou gaan meewerk omdat Hy jou liefhet. Dankbaarheid is dus ‘n keuse.

GEBED

Toe ek na U geroep het Here, het U my gebed verhoor. Amen