Goeiedag vandag is Dinsdag 24 September en dié maand fokus ons as gemeente op die skepping en op maniere hoe ons na die skepping kan omsien.
Vandag wil ek jou uitnooi om êrens deur die loop van die dag net vyf tot tien minute buitekant in jou tuin te sit en tyd met die Here te spandeer. Ons kan dit doen deur net te sit en luister en kyk hoe die hele skepping die Here aanbid.
Ons lewe in ’n tyd waar ons jaag van een plek na die volgende en ons vergeet dikwels dat ons as deel van God se Skepping ook saam met die res van God se skepping tyd moet maak om by sy voete te sit.
Kom ons lees Lukas 10:38 tot 42 lees
38Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” 41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Watter een van die twee vrouens se gedrag, beskryf jou eie gedrag? Is jy Marta wat jaag van punt A na punt B, of is jy Maria, wat by Jesus se voete gaan sit en vir Hom luister.
Ek wil afsluit deur vir jou te vra met watter een van die dames in die verhaal resoneer jy en hoe laat dit jou dink oor jou verhouding met God. Indien jy net soos Marta soos ’n hamster op ’n wieletjie rond hardloop, wil ek jou uitnooi om die week vyf tot tien minute te neem om in God se skepping te gaan sit en met Hom tyd te spandeer en Hom saam met die res van die skepping te aanbid.