Dagstuk | Dinsdag 26 Maart 2024

Dagstuk | Woensdag 27 Maart 2024
Dagstuk | Maandag 25 Maart 2024

STEEK ʼn KERS AAN

DIE MAANDAG VOOR GOEIE VRYDAG

Die Maandagoggend is Jesus weer terug na Jerusalem waar Hy sy laaste take voor sy kruisiging sou doen. Jesus gaan in Jerusalem na die tempel. Met ’n skok besef Hy dat die tempel in ’n handelshuis verander is. Dit was ’n wet in Israel dat elke Jood elke jaar ses gram silwer as tempelbelasing moes betaal en wel tydens die Pasgafees. Dit was nie ’n groot offer nie, want dit was minder as twee dae se loon. Maar dit mag nie heidense munte gewees het wat in die offerkiste gegooi word nie. Daarom was daar dan geldwisselaars rondom die tempel waar mense heidense geld kon omruil vir die regte soort munte. Aanvanklik was die idee dat dit ’n nie-winsgewende bedryf moes wees, maar baie gou is mense uitgebuit. Baie gou het die geldwisselaars kommissie by die transaksies bygesit.

Op die Maandag stap Jesus die tempel binne. Hy veroorsaak taamlike chaos deurdat Hy al die handelaars daar uitjaag, want die woorde van die Psalms is van toepassing op Jesus Ps 69:10 “Want die ywer vir u huis het my verteer,” Nou moet ons onthou hierdie bedryf is deur die hoëpriester Annas goedgekeur. Annas die hoëpriester voor wie Jesus later as gevangene gebring is. Om die waarheid te sê het Annas ’n groot aandeel in hierdie winsgewende bedryf gehad. Met hierdie optrede het Jesus dit dus in die vyand se hok gewaag. Daarom wil die Fariseërs weet met watter krag en gesag tree Jesus dan op. Jesus antwoord hulle: ““Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel het nie en hierdie opmerking sou ’n paar dae later as getuienis teen Hom gebruik word. Jesus se optrede die Maandag was dus inderdaad baie gevaarlik, want dit sou later teen Hom gebruik word.

DINSDAG VOOR GOEIE VRYDAG

Dinsdag was ‘n baie besige dag met onderrig aan mense. Hierdie dag het daar baie skerp vermanings uit Jesus se mond gekom. Jesus het Hom sterk uitgespreek teen die Fariseers wat ondraaglike swaar laste op ander se skouers geplaas het. Daarmee saam het hulle voorgegee om baie heilig te wees. Jesus spreek hulle baie skerp aan soos ons lees in Mat 23:13 :’ “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!” Dit was ook ‘n dag van leringe. Van Sy grootste gelykenisse het Hy op hierdie dag uitgespreek. Ook die baie aangrypende leringe oor die laaste dae wat Jesus gee op die Olyfberg. Jesus se woorde: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei.”

Interessant genoeg ook dat op hierdie dag vele afvaardigings na Jesus gestuur is om Hom te ondervra. Die Jode het nie minder nie as vier na Jesus gestuur om te kyk of hulle Hom nie kan vastrek op iets wat Hy sê nie. Hulle wou Jesus juis uitvang wanneer Hy iets in ‘n onbewaakte oomblik sou sê wat hulle dan teen Hom kan gebruik. Dit sou hulle dan baie help om Jesus aan die owerheid oor te gee. Jesus word ondervra oor Sy gesag, oor belasting aan die keiser, oor lewe na die dood en oor die grootste gebod.

 Vraag om oor na te dink: Die Fariseers het swaar laste op hulle naaste gelê: Waar plaas ek dalk druk op my naaste

GEBED

Here, U is my Verlosser. Help my om my naaste se las lig te maak. Amen