Dagstuk Dinsdag 26 November 2024

Dagstuk | Maandag 25 November 2024
Dagstuk | Woensdag 27 November 2024

KERS 2: DANKBAARHEID

TEKS: 1 TESSALONISENSE 5:18

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

BOODSKAP

Hierdie tyd van die jaar is ‘n mens op ‘n besondere manier gevul met dankbaarheid. Dankbaarheid is ‘n lewenshouding-besluit wat ons daagliks moet neem; dis die keuse wat ons elke dag maak. M.a.w. keuse tussen dankbaarheid en ondankbaarheid tussen negatiwiteit en positiwiteit . . . tussen misrabelheid en om gelukkig te wees.

Een van die geheime van ‘n gelukkige lewe is dankbaarheid ten spyte van ons omstandighede. As ek en jy dit kan regkry om met dankbaarheid te leef, verander dit die manier hoe ons na die wêreld kyk.  Dan begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en sien ons die seën wat ons wel beleef, raak.

Dankbaarheid laat jou anders na ‘n moeilike situasie kyk. Daar’s mos verskillende soorte tye en omstandighede in ons lewens – tye van voorspoed en tye van teëspoed; – tye van lag en tye van huil; – tye waarin jy positief opbou en tye waarin jy net moet keer dat alles nie in mekaar stort nie; – tye van gunstige omstandighede, maar ook tye waarin omstandighede nie gunstig en maklik is nie. Maar in alles (beveel die Here) moet ons dankbaar wees. Daarom is dankbaarheid ‘n keuse.

Hoe meer jy die Here begin dank vir wat Hy gee en doen en wie Hy is, hoe meer gaan jou oë oopgaan vir die ontelbare seëninge en die wysheid waarmee die Here dinge in jou lewe laat gebeur. M.a.w ons geloof in Hom groei. Al gaan dit dan ook moeilik in ons lewens is daar altyd iets om voor dankbaar te wees.

GEBED

Dankie Here, vir U oorvloedige genade en barmhartigheid wat aan my geskenk word elke dag. Here, wanneer ek U dank dan verdwyn my bekommernisse. Help my om altyd dankbaar te wees. Dankie dat U ‘n goeie Vader is. Amen