Dagstuk | Dinsdag 31 Maart 2026

Dagstuk | Maandag 30 Maart 2026
Dagstuk | Woensdag 1 April 2026

Vandag is Dinsdag, 31 Maart, en welkom by hierdie week se oordenkings, waar ons tydens hierdie Heilige Week op reis is na die kruis en die opstanding van Jesus, ons Verlosser. Hierdie week kyk ons elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 2: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Lukas 23:39–43

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerd gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Wat sê die bogenoemde gedeelte van God? Wat hoor jy oor jouself?

Hierdie misdadiger vra vir Jesus in sy oomblik van pyn: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Dink aan my – niks meer nie. Maar in die proses kry hy baie meer as wat hy ooit kon droom. Hierdie belofte geld ook vir jou.

Gebed: Here, dankie dat U meer doen as net om aan ons te dink. Amen.