22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie
BOODSKAP
Wanneer ervaar jy vreugde? Dit wil vir my voorkom of die vreugde wat deel is van die vrug van die Gees op ‘n dieper vlak lê as net vreugde wat ek beleef wanneer dit met my goed gaan. Daar is ‘n belangrike les wat die kinders van God in swaarkry tye leer. Ons vreugde/ blydskap in die lewe word nie gevorm deur ons omstandighede nie. As dit so was, sou ons dalk maar selde enige iets gehad het om bly oor te wees. En die oomblik as iets nie volgens my planne verloop nie, verloor ons ons vreugde.
As vreugde nie in ons omstandighede lê nie, waar vind ons dit? Wel- dit IS ‘n vrug van die Heilige Gees… as die Gees in ons lewe is, en beheer oorneem, dan vul Hy ons met vreugde.
Ons word daarop gewys in die Bybel dat die rede tot vreugde, die motief tot blydskap, die bron van hierdie voortdurende blydskap, ons redding in Jesus Christus is. Hierdie redding is volkome onaantasbaar en ewig! Daarom is daar rede om altyddeur bly te wees. Wanneer ons net besef wie ons Verlosser en Here is, en dat Hy in ons leef, en ons in Hom, het ons voortdurende blydskap en groot vreugde! Ons vreugde is in die Here self! Die Heilige Gees wek dit voortdurend in ons!
Vreugde kom wanneer ek my lewenspad saam met die Here stap. Dit groei al meer hoe nader ons aan die Here stap. Hierin lê ‘n groot geheim vir ons hele lewe. Ons blydskap/ vreugde lê nie in omstandighede wat altyd reg moet loop nie. DIt lê in die nabyheid van Jesus, en dit is altyd konstant. DIt lê nie in besittings nie. Besittings en ervarings gee nie blywende vreugde in ons lewe nie. Maar in ons verhouding met Jesus, wat lei na gesonde verhoudings met ander mense, daar lê ons blywende vreugde.
Paulus sit onskuldig in die tronk. Hy het al soveel moeilikheid gehad omdat hy Jesus as Here gevolg het. Hy het al so baie lyding ervaar. Wat sê ‘n mens in die trunk? Paulus sê in Filippense 4:4 en 5 “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.”Sien julle- blydskap is ‘n keuse in die lewe, meer as dit, dit is ‘n opdrag! Wees bly!
‘n Gebed om Vreugde
Vader, dankie dat U altyd by my is, kan ek te alle tye ware vreugde ervaar. Alhoewel die vreugde wat U gee nie van my omstandighede afhanklik is nie, leef ek nie altyd ‘n lewe wat deur vreugde gekenmerk word nie. In plaas daarvan om U te vertrou, laat ek my probleme alte dikwels toe om my reaksies te beïnvloed. Vergewe my asseblief! Vul my met u vreugde en vrede, sodat ek deur die krag van u Heilige Gees te alle tye vol hoop kan wees. Help my om ‘n lewe te lei wat gekenmerk word deur onoorwinlike vreugde. In die Naam van Jesus, amen.