Job 14:5. Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie.
Die digter Henry Austin Dobson het gesê: Time goes, you say? Ah, no! Alas, Time stays, we go” . Die gedagte klink baie pessimisties, maar verwoord Job se emosie in vandag se teksgedeelte. Gee God dan nie om wat met ons in hierdie wêreld gebeur nie? Job het dit reggekry om die tyd wat die Here hom gegee het baie produktief te gebruik. Sy gevolglike rykdom, gesondheid, geluk en sukses was ‘n getuienis dat hy deur God geseën word. Toe hy alles in ’n oogwink deur omstandighede verloor het sy vriende geargumenteer dat sy ellende God se straf is vir onbelyde sondes. Job skop hierteen vas en verklaar dat hy ’n opregte mens is wat verdien om eerder geseën te word as gestraf. Job eis van God ’n verduideliking. Wie is reg? Job of sy vriende? Die verrassing is dat beide verkeerd is en God hulle dan oor hulle gebrek aan insig aanspreek. Job se verhaal leer ons dat ons in die tyd van God se soewereiniteit lewe. Terwyl God oor alles in die skepping heers is Hy nie gevoelloos teenoor dit wat met ons gebeur nie. God se grootheid wat ons verstand te bowe gaan en sy nabyheid wat ons harte sterk, staan nie so ver uitmekaar as wat ons dink nie. Dit kom na ons wanneer ons soos Job alles aan die Here oorgee en toelaat dat die gebeure van die dag die toekoms in neem.
Gebed
O Here, my God, wys my tog hoe en waar my hart U moet soek; waar en hoe ek U kan vind. Heer, as U afwesig is, hoe moet ek U dan soek, wat moet ek doen met my gemoed? As U orals is dan moet U mos ook hier by my op hierdie plek wees waar ek verlate voel? Wys my hoe ek U moet benader. My begrip is te beperk om U te kan begryp, maar tog begeer ek dit Here. Die waarheid, u waarheid glo ek nie omdat ek dit verstaan nie, ek glo dat ek eintlik niks kan verstaan as ek nie in U glo nie. Amen.