Spreuke 20: 4‘ n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie.
Ons koester verwagtinge oor uitkomste, maar wie gaan dit laat realiseer? Met watter gesindheid leef ons as gelowiges in ons hede? Wie is verantwoordelik om te ploeg? Ons dink nie dat ons self lui is nie, eerder dat ons nie verantwoordelik is nie.
Mense is vandag baie sensitief oor hulle werktyd en dit wat in hulle kontrakte geskryf staan. En dit is ook reg om die grense te trek om ‘n gesonde balans te hê. Vandag se teks praat egter nie met ons oor die oortyd of ekstra werk wat ons nie ingepas kry nie, maar eerder die gesindheid waarmee ons in ons hede leef. Baie spesifiek die manier waarop jy ervaar die Here jou aandag op iets wil fokus wat voorheen nie vir jou belangrik was nie. Ek het in die week op die volgende aanhaling afgekom wat sê: Yesterday’s is the past, tomorrows’s the future, but today is a gift. That is why it’s called the present. Ry jy vandag met ‘n swaar gemoed werk toe? Wag daar verpligtinge op jou, of die geskenk van nuwe geleenthede? Jy kan miskien nie iets doen aan jou huidige werkomstandighede nie, maar die Here het jou wel die vermoë gegee om die ervaring daarvan te verander.
Gebed
Here, skielik het U my vandag laat sien hoe belaglik ek is om so in sirkels rond te hardloop. Ek neem myself en my besige lewe hopeloos te ernstig op. O God wat tyd gemaak het, dit besef ek nou. Ek wil graag sien hoe uitkomste realiseer en dink dat ek genoeg gedoen het of ek dink dis nie my verantwoordelikheid nie. Ek het nie krag, of tyd daarvoor nie. Here, leer my vandag om te rus, om te wag, om te waak en om dan die geleenthede waarvoor U my vandag bring te laat realiseer. Help my om in die sloertyd van my werk wat ek net wil verby kry iets meer te sien. Maak in my vandag ‘n opgewondenheid wakker in wat ek doen sodat ek sonder veel moeite veel meer kan doen. Amen.