Hierdie week word ons genooi om in liefde uit te reik na Moederaarde en alle vorme van lewe.
Jeremia 12:4;11
4 Hoe lank sal die land bly verdor,
die plante van die hele veld verdroog?
Vanweë die boosheid van hulle
wat daarin woon,
kwyn die diere en voëls weg.
Hulle sê immers:
“Hy sal ons einde nie sien nie.”
11Dit is ‘n woesteny gemaak;
verlate treur dit voor My.
Die hele land lê verlate,
omdat daar niemand is
wat hulle daaraan steur nie.
Jeremia teken ’n aangrypende prent: die land verdor, die gras verdroog, die diere en voëls vergaan. Die aarde self treur oor die boosheid van mense. Hierdie beeld is nie net ’n beskrywing van sy tyd nie, maar ’n profetiese waarskuwing wat deur die eeue weerklink.
Die pyn van die aarde is nie ’n abstrakte idee nie – dit is sigbaar in ons eie tyd: riviere wat besoedel is, woude wat verdwyn, diere wat uitsterf, lug wat swaar is van rook en gif. Jeremia se woorde herinner ons dat die skepping nie stil bly wanneer dit mishandel word nie. Die aarde treur, en daardie treur is ’n roepstem tot bekering.
Wat Jeremia vir my duidelik maak, is dat daar ’n direkte verband is tussen mense se dade en die gesondheid van die res van die skepping. In Jeremia ly die skepping nie omdat mense dit intensioneel vernietig nie, maar omdat mense nie God se gebooie nakom nie, wat die verhoudings tussen mens en God en mense en mekaar beskadig. Omdat die hierdie verhoudings nie gesond is nie, ly die skepping. Dit beteken dat, as ons vir die skepping wil sorg, ons verhouding met mekaar en met God gesond moet wees.
Wat my die meeste tref in hierdie teks, is die frase: “omdat niemand dit ter harte neem nie.” Die probleem is nie net die verwoesting nie, maar die apatie. Die aarde se pyn word geïgnoreer. Een van die treffendste definisies vir sonde wat ek al gehoor het, is “sonde is ’n mislukking om die moeite te doen om om te gee.” Jy kan ’n verskil maak, maar jy doen net nie die moeite nie. Nêrens sien ek dit duideliker as hoe mense met die aarde omgaan nie.
Jeremia roep ons om die lyding van die aarde ter harte te neem. Om nie weg te kyk nie, maar om te erken dat ons deel het aan die aarde se pyn. Om te besef dat ons roeping as rentmeesters nie net is om te bewaar nie, maar ook om te herstel. Om te leef met ’n bewuste liefde vir die aarde en alle vorme van lewe.
Gebed
Here, vergewe ons waar ons die aarde se pyn ignoreer. Gee ons oë om te sien, harte om te voel, en hande om te dien. Laat ons nie onverskillig wees nie, maar draers van hoop en herstel in U skepping. Amen.