Dagstuk | Donderdag 11 April 2024

Dagstuk | Vrydag 12 April 2024
Dagstuk | Woensdag 10 April 2024

Vandag is Donderdag, 11 April.  Hierdie week reis ons saam deur die laaste deel van die gemeente se geloofsbelydenis: Om voordurend te vernuwe.

Ons het deur die week gehoor dat ons nuwe mense in Jesus Christus is en dat ons dus na die wêreld moet kyk deur God se bril. Gister het ons ’n bietjie gesels oor hoe belangrik dit vir ons is om tyd te maak vir God sodat ons deur sy bril na die wêreld kyk.

As nuwe mense wat hul identeit in Christus vind moet ons lewe asof Jesus Christus werklik ons Verlosser is. Ons moet lewe met dankbare harte dat Jesus Christus in beheer is.

Kom ons lees Matteus 28:5-8 saam:

5Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. 7Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

Ons moet net soos wat die vroue gehardloop het om die Goeie Nuus van Jesus Christus te verkondig, net so moet ons ook hardloop om aan die wêreld te verkondig dat Jesus Christus leef. Ons moet deur ons woorde en dade verkondig dat Jesus ons Verlosser werklik lewe. Dat Hy in beheer is.  Dat ten spyte van al die seer en situasies van wanhoop, dat HY ons hoop is, want HY het die dood oorwin.

Ek en jy is soms die enigste stukkie Jesus wat sommiges ooit sal ontmoet.  Moeder Theresa het gesê dat ons moet onsself beskikbaar stel sodat ons ’n potlood vir die Here kan wees waarmee Hy, deur ons, aan die wêreld ’n liefdesbrief kan skryf.

Ek wil hê ons moet ’n oomblik neem en vir Christus dankie sê vir sy kruisiging, dood en opstanding en dat Hy hierdeur vir ons hoop bring, maar ek wil ook hê dat ons die Here vra om ons te help om regtig te lewe asof Hy ons Verlosser is.

Kom ons bid saam:

Dankie Here dat U ons so oneidnig lief gehad het dat U vir ons aan die kruis gesterf het. Dankie dat ons weet dat omdat U lewe het ons hoop vir môre. Here, ek vra dat U ons sal help om daagliks nuut te lewe en daagliks aan mense te verkondig dat U ons verlosser is. Amen