Teks: Prediker 3:1-4
Daar is ’n seisoen vir alles en ’n tyd vir elke begeerte onder die son: ’n tyd om gebore te word en’n tyd om te sterf; ’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is; ‘n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak; ’n tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou; ‘n tyd om te huil en ’n tyd om te lag.
Die digter skryf oor iets wat vir baie van ons dalk moeilik is om te aanvaar – dat die geskiedenis waarvan ons deel is, vloeibaar is. Dat die lewe konstant verander. Ook dat ons lewens as mense en families daarin opgeneem is sodat ons gedwing word tot nuwe keuses en aanpassings.
Sulke drastiese veranderinge kan rampspoedig en ontwrigtend wees. Aan die anderkant kan dit ook nuwe vooruitsigte, hoop en positiewe energie bring. Hoe ons ookal die veranderinge in ons lewe bestuur en ervaar, wat ons moet erken is dat ’n mens nooit kan terug gaan na dit wat was nie.
Daarom dink ek is die verrassende geskenk in sulke vloeibare tye van ‘n mens se lewe, die heiligheid van die eenvoudige. Die alledaagse gewone eenvoudige oomblikke wat ’n mens op ’n manier herinner aan dit wat regtig saak maak, en dat daar iewers in die konstante verandering nuwe moontlikhede opgesluit is.