Teks Psalm 5
Luister tog na my woorde, Here,
hoor hoe ek sug.
3Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God,
want tot U bid ek.
4U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.
Ek dink vir baie van ons was die Covid-pandemie destyds ’n herinnering aan die diep behoefte aan afsondering en stilte wat ons het. Dat ons besef het dat ons iewers in die harwar van elke dag ’n plekke van stilte nodig het. Die Psalms is vol van gebede wat hierdie behoefte verwoord. Aan die een kant is daar is ’n lang tradisie waar mense die geleentheid geneem het om op lang pelgrimstigte te gaan, op soek na sulke plekke van stilte. Maar vir die meeste van ons vind ons slegs sulke oomblikke tussen afsprake, ritte in die motor en die oomblikke net voor ons in die aand van moegheid aan die slaap raak.
Maar iets in ons herken die waarde van sulke plekke van stilte. Ons besef dat daarsonder raak ons lewe maklik oppervlakkig en verarm ons innerlik. Ons bewussyn van die rykdom van die lewe asook ‘n intuïsie vir die goddelike wat alles deurdring, word daarsonder ook meer ingeperk.
Mag jy vandag iewers ‘n plek van stilte vind waarookal dit mag wees. Mag dit ‘n plek wees waar jy emosioneel en geeslik weer gesond kan word. Mag dit ‘n plek wees waar God jou ontmoet.