Dagstuk | Donderdag 17 Oktober 2024

Dagstuk | Woensdag 16 Oktober 2024
Dagstuk | Vrydag 18 Oktober 2024

Vandag is Donderdag 17 Oktober. Hierdie week verken ons die verskillende aspekte van waterputte, elkeen wat ‘n spesifieke geestelike betekenis en toepassing vir ons lewens het, want waterputte dien as plekke van heilige ontmoetings, versorging en hernuwing.

Die Waterput van Betesda – Genesing en Hoop

Skriflesing: Johannes 5:5-8

Onder hulle was daar ‘n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?” Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”

Jesus sien ons behoeftes en omstandighede: In vers 6 lees ons dat Jesus die man gesien het en geweet het dat hy al lank siek was. Hierdie is belangrik, want dit wys dat Jesus bewus is van ons omstandighede, ongeag hoe lank ons daaraan ly of hoe hopeloos ons situasie mag lyk. Net soos die man by die waterput, mag ons soms voel dat ons lank gesukkel het met ‘n probleem, of dit nou fisies, emosioneel, of geestelik is.

Die wonderlike waarheid is dat Jesus weet van ons pyn en lyding. Hy kyk na ons met medelye en is bewus van elke detail van ons lewens. Net soos Hy na die man gekyk het, kyk Hy ook na ons met die oog van ‘n Verlosser wat weet wat ons nodig het.

Die verhaal van die Waterput van Betesda roep ons op om te onthou dat Jesus bewus is van ons stryd, Hy bied ons genesing en hoop aan. Maar Hy vra ook vir ons ‘n reaksie van geloof. Hy roep ons om op te staan, ons beddens op te tel, en in geloof te beweeg na die vryheid en genesing wat Hy bied. Mag ons, soos die man in hierdie verhaal, gereed wees om te antwoord op Jesus se roepstem en die hoop en genesing in ontvangs neem wat Hy vir ons elkeen bied.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U ons sien in ons swaarkry en dat U genesing en hoop bring. Help ons om U uitnodiging tot herstel te aanvaar en met geloof te reageer. Amen.