Dagstuk | Donderdag 20 Maart 2025

Dagstuk | Woensdag 19 Maart 2025
Dagstuk | Vrydag 21 Maart 2025

Opoffering

Teks. Romeine 12:1 – “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”.

Lydenstyd bestaan uit die viering van drie basiese ritmes: Vas, gebed en gee (vrygewigheid). Dit bring ons in pas, of in oefening met eenvoudige geloofsgewoontes wat jaar in en jaar uit kenmerkend van ons lewens behoort te wees. Vandag se teks is ’n beroep op selfverloëning en opoffering wat in elkeen van die drie geloofsgewoontes ’n belangrike rol speel. Jesus se lyding kom beliggaam hierdie waardes. Een van die oudste liedere wat deur die eerste gelowiges gesing is, is die bekende teks in Filippense 2:5: Dieselfde gesindheid wat in Christus Jesus was moet ook in julle wees. En dan vertel die teks van God wat homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Hoe gee jy jouself aan God as ’n lewende en heilige offer? Sondae tydens dienste neem ons offergawes op en aan die einde van elke maand vra ons lidmate om deur ’n dankoffer tot die gemeente se werksaamhede by te dra en lidmate offer ook hulle tyd vir diens by die kerk op. Maar, opoffering gaan oor veel meer as dit wat ons gee. Volgens ons teks is dit ‘n reaksie op God se groot ontferming waarin die Heilige Gees ons vry maak van ‘n selfgerigtheid, pretensie en vertoon wat oorloop in vorm van gee tot voordeel van God se koninkryk en ander. Hoe praat die Here vandag met jou deur hierdie teks? Watter nuwe perspektief bring die Heilige Gees oor jou offer?

Gebed

U het U Seun, Jesus Christus, gegee as die volmaakte offer vir my sondes. U liefde is oneindig, U genade is oorvloedig. Here, ek wil my lewe aan U wy as ’n lewende offer, heilig en aanneemlik vir U. Neem my hart, my gedagtes, my dade—alles wat ek is en het, lê ek voor U voete neer. Laat my wil verdwyn en U wil in my lewe seëvier. Help my om selfsugtige begeertes af te lê en U plan vir my te omhels. Here, leer my om in gehoorsaamheid te lewe, om te gee sonder om terug te hou, om lief te hê sonder om voorwaardes te stel, en om te dien met ‘n nederige hart. Laat my lewe ‘n geurige offer wees wat U naam verheerlik. Ek bid dat U my help om die kruispad van opoffering met vreugde te stap, soos Jesus dit gedoen het. Want in U teenwoordigheid is ware lewe, en in U diens lê my grootste vreugde. Amen.