Dagsê!
Vandag dink ons daaroor dat die liefde vriendelik is – so skryf Paulus onder inspirasie van die Heilige Gees in 1 Kor 13:4. Hy sê liefde is geduldig en vriendelik. “Vriendelik” is weereens een van die woorde wat jy 100% verstaan, totdat jy hom moet verduidelik. Beteken dit bloot dat ons breed glimlag, ander mense groet en vra hoe dit met hulle gaan? Sekerlik beteken dit al hierdie dinge. Maar dit gaan om meer.
Ek moet eerlik wees en sê dat ek ook eers, wanneer ek oor vriendelikheid gepraat het, volstaan het met die glimlag, gaafheid en geselligheid. Maar toe vertel iemand nou onlangs ʼn storie oor haar ma. Ek sal nou-nou sê wat die ma gedoen het, maar ek wil eers sê dat ek dadelik, toe ek die storie hoor, in my kop begin rondsoek het na ʼn woord wat die ma se optrede kan beskryf. En toe ontdek ek dat die woord wat haar ma se optrede die beste beskryf, die woord vriendelikheid is. Maar met dié verstaan ek toe ook sommer vriendelikheid beter. En ek verstaan dat mense wat sê “vriendelikheid kos niks” ʼn fout maak.
Kom ek vertel die storietjie: Ons verteller was op skool saam met kinders wat baie arm was. ʼn Paar van die kinders het uit ʼn huis gekom waar daar regtig min geld was. En soos dit nou maar met kinders gaan, het hulle gegroei en die skoene het te klein geword. Desperaat het die ma van daardie kinders die neusstukke van hul skoene afgesny. Dit was natuurlik vernederend vir die arme kinders, maar daar was geen ander opsie nie. Ons verteller se ouers was ook nie ryk nie, maar kon darem gereeld nuwe skoene vir hul krosie bekostig, en die verteller self kon dus elke keer, as die toontjies begin gekneld voel, nuwe skoene kry. Maar toe ons verteller se ma hoor van die kinders wat só met oop tone by die skool opdaag, het dit haar aan die hart gegryp – daarom het sy mooi vir haar eie kinders verduidelik wat sy gaan doen en hoekom, en hul goeie skoene se neusstukke ook afgesny. Nou was daar ook ryker kinders wat met geskonde skoene by die skool aangekom het.
Dít, het ek skielik besef, is wat die Heilige Gees met mense regkry. Dit is hoe liefde werk. Dít is ʼn vriendelikheid soos dié van Jesus! Oor hoe hierdie vriendelikheid by Jesus na vore gekom het, sal ek later, wanneer ons nadink oor die liefde wat alles bedek, meer sê.
Maar nou moet ons net raaksien dat vriendelike liefde die soort liefde is wat ander mense help regopstaan wanneer omstandighede of omstanders hulle probeer omstamp. Vriendelikheid kyk nooit neerhalend, neusoptrekkerig of neerbuigend na ander nie. Meer nog, dit beskerm ook die weerloses teen daardie soort blik in die wrede oë waarvan ons wêreld vol is. Vriendelikheid gaan staan langs die mens wat verneder word.
Dalk is hierdie beskermende optrede nie net van vriendelikheid waar nie. Dalk is al die verskillende dinge wat die liefde doen daarop gemik om te beskerm, te beskut en te bemoedig.
As die Here wil en ons lewe, dink ons môre saam oor die wonderbaarlikste beskerming van die liefde. In 1 Korintiërs 13:7 staan daar: “Die liefde bedek alles.”
Gebed
Kom ons aanbid die Here nou:
“U is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:
Dat U ons u Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
U wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef –
nou kan ons, uit u gebore, uit die bron van liefde leef!
Deur u Gees, die wondergawe, laat U wederliefde spruit,
en die liefde – wat volmaak is – dryf die vrees en selfsug uit.
As U, o Vader, dan ʼn sondaar maak tot kind,
mag u Seun al meer gestalte in ons doen en laat vind.