Ek lees graag vir ons ‘n gebed van Dirkie Smit:
Here ons God,
Gee ons tog afstand, gee ons tog ruimte, gee ons tog perspektief-
Alles voel so oorweldigend, te veel vir ons, te swaar, te seer,
Alles voel so moeilik, so belangrik, so dringend, so veeleisend.
Ons kan nie onderskei nie, ons voel oorvra,
Ons lewe word beheer
Deur alles wat ons begeer en deur alles wat ons vrees.
Ons staar ons so vas teen alles wat was
En teen wat nog wag,
Teen laste van gister en sorge van more-
Gee ons tog afstand, gee ons tog ruimte, gee ons tog perspektief, Here.
Bevry ons. Help ons onderskei.
Leer ons wat van belang is- en wat nie.
Gee ons moed. Gee ons verbeelding. Gee ons geduld.
Gee ons die vermoee en die wil om nuut te begin,
Om voor te begin.
Gee ons die opwinding van ‘n nuwe aanvang, van ‘n nuwe dag.
Skenk tog aan ons die liefde- wat alles ander sien.
Vul ons tog met die hoop- wat alles nuut maak.
Laat ons iets van u hart verstaan, van u eie patos,
en laat iets daarvan ook weerspieel word in ons eie passies en ons prioriteite en ons planne.
Neem die oormag om ons weg, laat die donker plek maak vir lig,
Verlos ons van ons slegte drome- en laat ons U sien,
Elke dag, elke oomblik, ook vandag.
Here ons God,
Gee ons tog afstand, geen ons tog ruimte, gee ons tog perspektief