Teen die einde van nog ‘n maand wil ek jou vra om vir ‘n paar oomblikke terug te kyk na hierdie maand wat was en bewus te word van die mense en oomblikke en geleenthede waarvoor jy dankbaar is. Terwyl jy die oomblikke in jou gedagtes vashou, lees ek graag ‘n gebed van Dirkie Smit. Dalk help sy gebed jou om bewus te raak van al die goeie gawes wat die Here vir jou gee:
Dankie vir die rolmodelle in ons lewe, Here.
Vir ouers, onderwysers, familie, vriende, vir sovele op ons pad-
Ons sien nog hulle gesigte,
Ons onthou nog hulle woorde,
ons hoor nog hulle stemme.
En ons dank U
Dankie vir die wonder van kennis;
Vir skole, vir wetenskap, vir tegnologie, vir denke, insig, verstand-
Ons ontvang die gawes van al die kennis, elke dag,
Ons ervaar die seeninge, ons proe, smaak, geniet die vele vrugte
Van al die groei, al die rykdom, al die wasdom.
En ons dank U.
Dankie vir beloftes van vernuwing;
Dat niks hoef te bly soos dit nou is nie,
Ook nie ons self, en ons eie lewe nie.
Dankie vir oe van hoop
Wat nuwe moontlikede vir more kan sien;
Vir harte wat verander en vernuwe kan word-
Ons verheug ons dat ou dinge kan verbygaan,
En dat alles nuut kan word.
En ons dank U.
Dankie vir alle hemelse teenwoordigheid-
Onder ons, by ons, in ons, rondom ons.
Gee ons tog ook die fyn aanvoeling,
Die geestelike onderskeidingsvermoe
Om te kan hoor en sien en waarneem en herken, o Here.