Dagstuk | Donderdag 27 Junie 2024

Dagstuk | Woensdag 26 Junie 2024
Dagstuk | Vrydag 28 Junie 2024

Psalm 51: 8, 18. Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. ‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring, ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging.

Wat vra die Here van ons? Iewers het die gedagte by ons posgevat dat indien ons iets van God verwag Hy in ruil daarvoor iets van ons verwag. In die Ou Testament het die persepsie ontstaan dat mense wat nie gereeld hulle offers na die tempel bring nie, nie kan verwag om deur God geseën te word nie. In die res van Psalm 51 maak God dit duidelik dat Hy nie van ons offers afhanklik is nie. Vir God maak ‘n lewe van opregtheid en verootmoediging eerder saak. Dit is ’n gebaar waarin ons onsself in nederigheid vir God se teenwoordigheid oopstel en ons aan Sy oordele oorlaat. Hierdie offer is nie altyd vir ons so maklik nie. Dit vra as’t ware dat ons ons gevestigde perspektiewe, oordele en eie belang opoffer of prysgee. By watter offer en gebed bring vandag se teks jou uit? Wat is die opregtheid wat vandag se teks in jou aanspreek om voor die Here te bely? Mag dit, soos in die Psalm, jou by ‘n plek bring om te ervaar dat jy deur die Here geseën word.

Gebed

Vandag vra ek U net, Here, gee Uself vir my, want u teenwoordigheid is meer as enige ander gawe wat U my vandag kan gee. Kom Here, genees my verlede. Bevry my van bitter herinneringe. Verander my bestaan in ware lewe. Kom, Here, gee my hoop vir môre. Laat u vrede my gedagtes kalmeer en u liefde my hart stilmaak. Dankie Here, dat u Uself sonder voorbehoud vir ons gee. Help my, Here, om myself vir U te gee. Amen.