KERS 4: LIEFDE
TEKS: 1 JOHANNES 4:16
En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.
God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom
BOODSKAP
Ons lees ‘n hele paar keer in die brief van Johannes: God is liefde. As ’n mens dit omdraai, staan daar: Liefde is . . . God. Dit is die kernagtigste en enigste korrekte omskrywing van wat liefde is. Tussen God en liefde kan ’n mens ‘n is-gelykaan-teken plaas. Liefde is nie net ’n eienskap van God nie, God is in Homself liefde: Wat Johannes dus wil sê is dat God die bron van die liefde is. God, van wie die liefde kom, is die liefde. Liefde is die wese van God. Dis is God self. Dit is die natuur en eienskap van God. Hy is liefde. Hierdie liefde gaan ons verstand te bowe ons kan dit nie bepaal of uitredeneer nie. Dit is ‘n liefde wat geen grens of perk het nie. “…to say God is Love, implies that all His activity is loving activity. If He creates, He creates in love, if He rules, He rules in love, if He judges, He judges in love. All that He does is the expression of His nature, which is – to love.”
Ten spyte van ‘n gebroke wêreld waar daar soveel hartseer en pyn deur die sonde veroorsaak word. Kan ons vandag bely dat God liefde is. Dan moet ons vir mekaar duidelik kom sê dat God is liefde nie beteken dat dit net sal goed gaan met ons nie. Ons woon in hierdie gebroke wêreld waar pyn en hartseer steeds is. Maar een ding kan ek en jy seker weet dat God by Sy kinders is en hulle elke dag met Sy liefde omvou.
GEBED
“God is Liefde!” juig ons harte,
en bedink wat liefde doen:
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in liefde ons vergeef –
nou kan ons, uit God gebore,
uit dié bron van liefde leef!