Dagstuk | Donderdag 30 Mei 2024

Dagstuk | Vrydag 31 Mei 2024
Dagstuk | Woensdag 29 Mei 2024

Sondag 19 Mei was Pinksterfees en met Pinkster het ons gefokus op hoe die Heilige Gees ons harte hervorm om meer soos Christus te wees en te verlang na God se Koninkryk. Hierdie week herbesoek ons die temas van Pinkster.

Openbaring 21:5

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Refleksie

Terry Pratchett skryf:

“There’s always a story. It’s all stories, really. The sun coming up every day is a story. Everything’s got a story in it. Change the story, change the world.”

Dit is belangrik om te weet watter storie jy van deel is en waarheen die storie op pad is. Ek onthou ek moes een keer op universiteit vir twee dominees ’n vraag gaan vrae. Ek kan nie spesifiek die vraag onthou nie, maar dit was iets soos as jy die storie van die Bybel in ’n paar sinne moes vertel, hoe sou jy dit vertel. En die een dominee begin met: “Ons lewe in ’n stukkende, gebroke wêreld…” Die ander een begin met “God het goed geskep…” Albei het geëindig by God wat besig is om herstel te bring in die wêreld, maar ek het nogal gewonder hoe sien God ons in die eerste plek? Sien God ons as stukkende, gebroke, sondige mense, of sien God ons mense wat in sy Beeld geskep is?

Verander die storie, verander die wêreld. Ons moet weet van watter storie ons deel is.

Ek dink in ’n klomp maniere is dit wat Jesus kom doen het – Hy het ’n ander storie oor God kom vertel. Hy het die goeie nuus kom vertel. Die evangelie.

Ek dink die kerk vertel so dikwels die storie die doel van om Jesus te volg is om die aarde te ontsnap en eendag in die hemel te kom. Maar die storie wat Openbaring vertel, van waarheen ons op pad is, is presies die teenoorgestelde. Die doel is nie om die aarde te ontsnap en in die Hemel te kom nie. Die Hemel kom aarde toe. Die doel is die herstel van die skepping en die versoening van Hemel en aarde. God kom woon by die mense. Die doel is die herstel of nuut maak van die aarde.

Christus maak alles nuut. Dit is die storie waarvan ons deel is, waarheen ons op pad is. Daar is n vreemde sinnetjie ’n paar versies later, wat se: “Dit het klaar gebeur. Ek is die alpha en die omega.”

Dit waarheen ons op pad is, die visie aan die einde van Openbaring, het klaar gebeur.

In 2 Korintiërs 5:17 staan daar: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.

Die Heilige Gees gee vir ons ’n nuwe identiteit. Ons is ’n nuwe skepping in Christus. En ons word uitgenooi om deel te neem aan die werk van Christus om alles nuut te maak, om die skepping te herstel

Ons moet leer lewe uit hierdie identiteit en ons moet leer om ons stories anders te vertel.

Dink vir ’n oomblik hoe jy jou eie storie vertel? Hoe praat jy oor jouself? Sien jy jouself as iemand wat nuut gemaak is in Christus?

Hoe praat jy oor die wêreld, of die land waarin jy leef? Hoe kan ons leer om hieroor te praat in die wete dat Christus alles nuut maak?

Ons bid vandag die gebed wat Jesus ons leer bid:

Gebed

Ons Vader wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word.

Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied,

soos in die hemel, so ook op die aarde.

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

En vergeef ons ons skulde,

soos ook ons hulle vergeef

wat teenoor ons skuldig staan.

En bring ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.