Dagstuk | Donderdag 4 Julie 2024

Dagstuk | Woensdag 3 Julie 2024
Dagstuk | Vrydag 5 Julie 2024

Goeiedag, vandag is Donderdag 4 Julie en in hierdie week gesels ons oor die feit dat ek en jy beide geroep is om as God se kinders te lewe.

Ons het hierdie week gesels oor die feit dat God altyd by ons is. Ons lees ook in Jesaja 43:1 dat God beide vir my en vir jou op die naam geroep het en dat ons syne is. Hoe mooi is dit nie dat God vir elkeen van ons op die naam roep nie. Dat Hy ‘n spesiale plan vir elkeen van ons het en dat Hy vir elkeen van ons spesiale gawes en talente gegee het om Hom te dien. Ons het ook nagedink oor die feit dat ons onsself moet oopstel sodat God ons kan gebruik om ander by te staan in tye van nood. Ons het onsself ook daaraan herinner dat sy plan altyd was dat elkeen van ons verteenwoordigers van Hom moet wees. Dat waar ons gaan  God se liefde en genade uitstraal. Ons het beide ’n roeping ontvang om saam met God Sy Koninkryk op aarde te bou.

Vandag gaan ons bietjie gesels oor hoe ons in Jesus se voetspore kan loop en dus op so ‘n manier ons roeping uit leef. Een manier hoe ons dit kan doen is om daagliks te strewe om in eenheid te lewe. Ons is geroep om te werk as ’n eenheid en na eenheid in die liggaam van Christus.

Kom ons lees Efesiërs 4:1-7: 1Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. 7Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.

Ons word deur een doop verbind aan een God deur een Gees. Ons het die verantwoordelikheid om net soos Jesus vir eenheid te werk. Vir Hom was dit nie belangrik of jy ryk, arm, Griek, Jood, man of vrou was nie. Vir Jesus het dit gegaan oor die persoon en Jesus het hul menswaardigheid raak gesien.  In dié tyd waar ons onsself in Suid-Afrika bevind, word ons ook deur die teks geroep om oor grense heen na ander mense uit te reik en saam met hulle te groei. Ons word geroep om na mense te kyk soos Jesus na mense kyk en hul waardigheid raak te sien. Ons word uitgenooi en geroep om in Jesus se voetspore te volg en plek te maak vir almal rondom ons tafels, of dit nou by die werk, by die skool, of by die kerk is. Vir Jesus was almal belangrik, maak nie saak wat hulle van Hom gesê het nie. Status was en is nie vir Hom belangrik nie.  Hy het nog steeds alle mense met liefde en genade behandel en dus is dit ons roeping om net soos Jesus teen verdeeldheid op te staan en mense in te nooi en regtig te werk vir eenheid.

Gebed:

Here Jesus, dankie vir U. Dankie dat ek kan besef dat ek ‘n groot rol in u koninkryk speel. Here dankie dat U ons so lief het, dat U vir ons elkeen unieke gawes en talente gegee het. Here ek vra dat U ons sal help om hierdie unieke gawes en talente te kan gebruik om vir ander hoop te bring, om vir ander van u liefde en genade te leer en dalk net om vir iemand ‘n glimlag te bring. Here ek vra dat U net vir almal sal omvou en styf vashou en dat hulle sal besef dat hulle belangrik is vir U en dat ons soms deur ’n klein gebaar soos ’n glimlag, of ‘n drukkie vir iemand anders die wêreld kan beteken.

Amen