
Goeiemôre, vriende. Dis Donderdag 4 Junie. Baie welkom by vandag se oordenking. Ons het die afgelope drie dae nagedink oor Bybelse gelykenisse waarin ons onsself as Jesus-bome in God se koninkryk kan beleef. Ons geestelike lewens ontkiem uit die saad van die evangeliewoord. Ons geloofswortels groei in Christus, die grond van ons bestaan. Die Heilige Gees is soos standhoudende water wat ons lewend hou en ons ook bo die grond laat groei. Vandag begin ons fokus op die lewe van bome bo die grond.
Ons tema is: Takke en blare vir die voëls. Ons lees weer Maandag se teks.
Tekslesing: Matt. 13:31-32.
Uit die klein mosterdsaadjie groei die groot mosterdboom, wetenskaplik bekend as Sinapis nigra. Dis ’n boom wat 3-4 meter hoog kan uitgroei. Daar was baie sulke bome in die warm en droë semiwoestyn van Judea. Benewens al die ander waarde van die mosterdboom, was dit van groot waarde vir die voëls. Voëls wat oor die warm woestyngebied vlieg, kon die boom se takke en blare benut as rusplek in hul vermoeidheid en as skadu teen die felheid van die middagson. Op die takke tussen die blare kon hulle ook beskutting vind teen stormwind en sandstorms. Jesus vermeld spesifiek die waarde van die boom as nesmaakplek waar die kleintjies kon uitbroei en grootword voordat hulle kon vlieg. Ek dink ook sommer aan die waarde van die blare wat koolsuurgas inneem en suurstof afgee. Só dien elke boom met blare die lewe — meer as net die lewens van die voëls!
Wat sê dit van ons? God laat ons geestelik groei tot volwassenheid in Christus. Soos wat geloofswortels groei en verdiep, groei die boom bo die grond uit. Takke vermeerder, raak dikker en sterker en strek wyer. Blare vermeerder ook. In Christus, deur die werk van die Gees, groei ons tot koninkryksbome wat vir mekaar en vir die skepping daar moet wees in tye van nood en ter wille van die volheid van lewe.
Ek wonder vir watter vermoeides, besorgdes en bedreigdes jy vandag en hierdie week verwelkomende oop takke en beskermende blare moet wees? Waar ek woon, is daar bordjies wat ’n snelheidsperk van 30 km per uur aandui, met die dringende beroep: “Dis veral ter wille van die kinders.” Só maak ons saam groot aan ander se kinders, al is ons nie letterlik nesmaakplekke nie!
’n Boom word duidelik nie groot net ter wille van homself nie. Elke gelowige moet groei tot koninkryksbome van waarde vir God se skepping, tot eer van God as Skepper en Versorger.
Gebed
Here, dankie vir die groeikrag waardeur ons groot en sterk kan word om ook daar te wees vir ander. Gebruik ons in u diens soos wat die mosterdboom ook tot diens is vir die voëls. Gebruik ons as beskutting vir mense in gevaar, as rusplek vir vermoeides, as skaduplek vir dié vir wie die lewe te swaar geword het, en as groeiplek vir ander se lewens. Amen.
Môre dink ons na oor vrugtebome. Mooi dag en week vir jou verder.