Dagstuk | Donderdag 6 Februarie 2025

Dagstuk | Woensdag 5 Februarie 2025
Dagstuk | Vrydag 7 Februarie 2025

TEMA: VRUG VAN DIE GEES: GEDULD

TEKS: GALASIëRS 5:22-23 (2020 VERTALING)

Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.

BOODSKAP

Die vierde vrug van die gees is geduld.  Ons as mens is van nature ongeduldig, want ons wil nie wag nie.  Ons soek oombliklike oplossings.  Ons is die “nou” geslag.  Alles is kits, kits kos, kits pap, kits koffie, kits verligting van hoofpyne en verkoues.  Alles met die doel om tyd te spaar.  Die “kits” lewe veroorsaak dat ons meer gespanne is as wat die mens bedoel was om te leef.  Ongeduld gee ook maklik aanleiding tot ander negatiewe emosies soos woede en uitbarstings.

Ons word nie met geduld gebore nie.  Volgens Galasiërs 5 is geduld iets wat die Heilige Gees binne ‘n gelowige bewerk – dit is deel van die vrug van die Gees.  Geduld is kragtig. Geduld is die vermoë om dinge deur te sien. Geduld beteken dat ek nie hoop verloor nie. Geduld hou aan om die wil van die Here te doen ongeag omstandighede.

As ons wil verstaan wat geduld is, hoef ons net na God self te kyk. God is van nature geduldig. Hy wag op ons, Hy gee ons tyd om te groei en te verander. Sy geduld is ‘n blyk van Sy liefde en genade vir ons. Laat ons daarom nie kla oor die tyd wat dit neem nie, maar laat ons dankbaar wees vir God se geduld met ons. Sy geduld is ons redding. Geduld beteken nie passief (stil te sit) wag nie, maar aktief te wees in jou vertroue op God. Dit is om te glo dat Hy alle dinge vir ons ten goede sal gee op Sy tyd. Net soos die boer geduldig wag op die reën vir sy gewasse, so mag ons geduldig wag op God se ingryping in ons lewens.

Dit kan moeilik wees, maar laat ons ons laat inspireer deur die voorbeelde van geduld in die Bybel, soos Abraham, Josef en Job. Hul geduldige verwagting is beloon, en so sal ons geduldige hoop ook beloon word deur ons getroue God.

GEBED

’n Gebed om Geduld

Here, Geduld kom nie by my van nature nie. Ek het U hulp nodig. Mag U Geduld met my my aanspoor om ook geduldig te wees in die lewe. Amen