https://youtu.be/BBvOj7YlVq8
Ons is tans in koninkrykstyd en in ons eredienste besig met ’n reeks: So ook op die aarde. Hierdie week reis ons saam met die verhaal van Rut, wat ons help om te sien hoe God se genade sigbaar word in ons weerloosheid.
Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, moenie op ‘n ander land gaan are optel nie; moet ook nie hier weggaan nie. Bly hier by die meisies. Bly op die land waar hulle oes, en volg hulle. Ek het die mans aangesê om jou nie lastig te val nie. En wanneer jy dors is, gaan na die waterkruike toe en drink van die water wat die werksmense vir hulle geskep het.”
Vandag word ons uitgenooi om ons perspektief te verander en met die karakter van Boas te identifiseer. Boas wat ’n landeienaar is, wat sou kon sê dat die Here vir hom oorvloedig voorsien. Hy het meer as genoeg. Eerder as wat hy soveel as moontlik vir homself probeer verseker, skep hy ’n veilige omgewing vir die weerloses om koringare op sy lande op te tel. Die wet van die Israeliete maak voorsiening daarvoor, maar dit sou maklik wees om die wet te misbruik om eers te verseker dat jy vir jouself soveel as moontlik bymekaarmaak en net ’n bietjie oor te los vir die weerloses. Boas kies die teenoorgestelde, hy gebruik die wet om te verseker dat daar meer as genoeg is en dat die vreemdeling veilig is.
Toe Boas uitvind wie Rut is en haar storie hoor, bewys hy nog groter genade aan haar, wat weereens verder gaan as wat die wet van hom verwag. Omdat sy ’n Moabiet is, sou hy haar kon wegjaag. Hy kies eerder om haar te verwelkom.
Vandag, in ons samelewing, maak die wet dit vir mense moontlik om soveel as moontlik vir hulself bymekaar te maak – baie meer as wat hulle nodig het – ten koste van ander. Dit is heeltemal wettig en normaal, in die samelewing se oë dat 1% van die mense 99% van die wêreld se rykdom besit, terwyl daar ’n groot hoeveelheid mense in armoede leef. Daar is selfs reëls vir oorlog, wat sê dat jy kan teen ander oorlog voer, solank jy binne hierdie reëls speel. Boas se karakter nooi ons uit om te vra hoe ons deelneem aan ons samelewing. Speel ons binne die reëls van die samelewing om onsself te beskerm en soveel as moontlik vir onsself te verseker, of kies ons om die reëls so toe te pas dat dit lei tot genade en geregtigheid vir die weerloses, vreemdelinge en vlugtelinge.
Dalk het jy al ’n Boas in jou lewe gehad wat jou verwelkom het en gehelp het deur ’n moeilike tyd. Sê vandag opnuut dankie vir die Here vir hierdie mense wat jou gehelp het. Dalk is jy nou in ’n plek in jou lewe wat dit vir jou voel of die Here vir jou voorsien en dat jy meer het as wat jy nodig het. Hoe kan jy dit waarmee die Here jou seën, gebruik om tot seën te wees van ander?
Hoe kan jy vandag iemand se lewe verryk met onverwagte genade?
Genadige God, maak my ‘n instrument van U oorvloedige liefde. Amen.