Dagstuk | Maandag 1 Junie 2026

Dagstuk | Saterdag 30 Mei 2026
Dagstuk | Dinsdag 2 Junie 2026

Goeiemôre, vriende. Dis Maandag 1 Junie, amptelik die begin van winter. Ek hoop jy was bevoorreg om warm te kon slaap laasnag. Baie welkom by ons oordenkings van hierdie week.

Het jy jouself al met ’n boom vergelyk? Ek wil tot Saterdag saam met jou tekste lees wat ons verwonderd laat stilstaan by die grootheid en krag van God in die lewe van bome en plante. Ons gaan uit gelykenisse lees, tekste waarin ons met bome vergelyk word en waarin ons onsself leer ken as bome in God se koninkryk.

Ons tema vandag is: Evangeliesaad.

Tekslesing: Luk. 8:5, 8, 11; Matt. 13:31-32; 1 Pet. 1:23-25.

Ek wonder of jy al tamatiepitte of ander klein saadjies sommer so uit die kombuis op die grond in die agterplaas uitgegooi het? Dalk was jy verwonderd toe jy eendag groen plantjies uit die saadjies sien opkom het. Dalk was jy verwonderd oor die geheimsinnige krag van die saad wat op die grond geval het. Saad hoef nie eers altyd geplant te word nie. Saai is genoeg. Saad en grond kan self verenig.

In die gelykenis van die saaier in Lukas 8 word saad wat plante laat opkom, vergelyk met die Woord van God. Petrus noem hierdie saad die evangeliewoord. Soos wat saad eikebome of mostertbome kan voortbring, skep die evangeliewoord nuwe lewe wat na Jesus aard — Jesus-bome, God se koninkryksbome.

Miskien het jy ook al, soos die boer in die gelykenis van Matt. 13, saad geplant en nie net gesaai nie. Tog was jy steeds verwonderd oor die krag van die saad in die grond toe die nuwe plant opkom. Selfs die kleinste soort saad wat in Jesus se tyd bekend was, die saad van die mosterdboom, kon tot ’n groot boom van 3-4 meter hoog uitgroei.

Die Heilige Gees het op Pinksterdag van die dissipels getuies gemaak — saaiers en planters van die evangeliewoord oor Jesus. Petrus het eerste begin saai toe hy opstaan en die duisende mense toespreek wat voor die tempel saamgedrom het.

Die evangeliewoord is kragtige saad. Dit het die krag om mense deur die kruisdood van Jesus van alle sonde te vergewe. Dit het die krag om gewone sterflinge ewig te laat lewe in God se heerlike teenwoordigheid. Daarom skryf Paulus in Rom. 1:16 dat hy hom nie oor die evangelie skaam nie, want dit is ’n krag tot redding.

Die Heilige Gees maak ook van my en jou draers van die evangeliesaad. Wees ’n saaier, wees ’n planter, ondersteun die projekte van die gemeente waardeur die evangeliesaad versprei word. Die Heilige Gees van Pinksterdag sal dit laat groei.

Gebed:

Gees van God, dankie vir almal wat die evangeliesaad al gesaai het — saad wat opgekom het as Jesus-bome oor die hele wêreld. Gebruik ons ook as saaiers, planters en ondersteuners van saai- en plantprojekte. Amen.

Mooi dag vir julle verder. Môre praat ons oor plantwortels — dit wat die saad onder die grond laat gebeur.