In die volgende week se dagstukkies is ons steeds binne die tyd van die kerkjaar, wat ons Epifanie noem, besig om te praat oor nader aan God: Hoe die Here besig is om die brug na ons oor te steek en die wyse waarop ons daarop reageer.
Genesis 28: 17 … God wat ons kom vind.
Jakob het wakker geskrik en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders as die huis van God, dit is die poort van die hemel”.
Jakob was ambisieus. Hy wou graag bo ander uitstyg en het elke geleentheid aangegryp om sukses te behaal. Sy ambisie het hom egter duur te staan gekom. Dit het sy verhoudinge met mense in gedrang gebring en hom na ’n punt geneem waar hy van alles moes weg vlug en syl lewe op ‘n nuwe plek moes herbou. Eerder as om uit sy verlede te leer en op die plek waar hy hom bevind oor te begin, verkies hy om van sy omstandighede en God te vlug – net om dieselfe fout weer elders te herhaal. Dit is hier, tussen êrens en nêrens waar die Here hom ontmoet het. Die verrassende is dat die Here hom nie in hierdie ontmoeting veroordeel nie. Hierdie genade het ‘n diep indruk op Jakob gemaak en hom in staat gestel om sy lewe om te draai. In die jare wat daarop volg kry ons met ‘n heeltemal ander Jakob te doen en sy naam verander van Jakob (wat hakskeen gryper beteken) na Israel (God het sy doel bereik/seëvier).
Hierdie verhaal laat ons ook wakker skrik vir die realiteit dat die Here ons te midde van ons eie hardkoppigheid nie los nie en ons nie net aan die gevolge van ons dade uitlewer nie. God seëvier in ons! Dit beteken dat hy ten spyte van ons hardkoppigheid, tekortkominge en ons weiering om te verander ons steeds deur ons lewens vergesel om dan daar sy opwagting te maak. Wat skrikwekkend is, is die besef dat God, soos met Jakob, ons juis op plekke waarvan ons vlug, of situasies wat ons ignoreer – Sy opwagting maak. Waar is die Here besig om jou heen te vergesel en oor watter aspekte in jou lewe wil Hy gebruik sodat jy sal wakker skrik en sy teenwoordigheid beleef?
Gebed
O God, ek roep na U vroeg in die môre. Help my om te bid en om my gedagtes op U te rig: Ek kan dit nie alleen doen nie. Daar is soveel duisternis in my, maar by U is daar lig; ek is alleen, maar U verlaat my nie; ek is broos, maar by U is daar hulp; ek is rusteloos, maar u gee my vrede; ek is vol bitterheid, maar by U vind ek berusting; ek verstaan nie u weë nie, maar U ken my pad.
Maak my vry, en gee dat ek so sal lewe dat ek aan U en myself rekenskap gee… Here, mag u Naam verheerlik word, wat hierdie dag ook al mag inhou. Amen.