
“Ek sal vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee. Ek sal die hart van klip uit julle liggaam uithaal en vir julle ’n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee, en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”
In hierdie kwartaal fokus ons as gemeente op die waarde dat God ons voortdurend kom vernuwe. ’n Mens sou dus kon sê dat die Here ons roep om verandering in ons hede aan te bring. Hierdie roeping begin egter nie buite by ons omstandighede nie, maar binne-in ons — in ons harte. God vernuwe nie bloot dinge rondom ons nie; Hy vernuwe ons self.
Die teks kom uit die tyd van die Babiloniese ballingskap, toe gelowiges in Jerusalem alles verloor het en na ’n vreemde land weggevoer is. Hulle hopelose situasie was die gevolg daarvan dat hulle, ten spyte van die volgehoue waarskuwings van die profete, nie hul lewens volgens God se wil wou aanpas nie. Nou, toe dit te laat was, het hulle ook nie meer die krag, wil of motivering gehad om iets te verander nie.
Maar juis dáár, in hul hulpeloosheid, gryp God in — en doen Hy as’t ware ’n hartoorplanting. Let op hoe die teks die klem plaas, nie op wat ons moet doen nie, maar op wat God doen. Dít is wat sy genade en verlossing so betekenisvol maak: God los ons nie aan onsself oor nie. Hy gryp nie net in ons omstandighede in nie, maar werk diep binne-in ons, waar Hy nuwe lewe laat ontkiem.
Here, U beloof om vir ons ’n nuwe hart te gee en ’n nuwe gees in ons binneste te plaas.
Ons bely dat ons harte dikwels hard geword het — onverskillig, trots en selfgesentreerd.
Maar U, o God, kan die hart van klip uithaal en dit vervang met ’n hart van vleis —
’n hart wat weer kan voel, kan luister en kan liefhê.
Plaas U Gees in ons, Here, sodat ons nie net U Woord hoor nie,
maar ook daarna leef.
Laat U Gees ons leer om U wil te doen — nie uit plig nie, maar uit liefde.
Maak ons gewillig en gehoorsaam, sodat ons lewe U Naam eer.
Here, reinig ons gedagtes, vernuwe ons begeertes,
en laat U vrede in ons harte woon.
Skep in ons, o God, ’n skoon hart,
en vernuwe ’n standvastige gees binne-in ons.
Dankie dat U nie net ons omstandighede verander nie,
maar ons van binne af nuut maak.
U is die God wat lewe gee waar daar dood was,
hoop bring waar daar wanhoop was,
en lig bring waar daar donkerte was.
Amen.