Dagstuk | Maandag 12 Februarie 2024

Dagstuk | Dinsdag 13 Februarie 2024
Dagstuk | Saterdag 10 Februarie 2024

Vandag is Maandag 12 Februarie. Hierdie is ons eerste Lydensweek wat strek vanaf Aswoensdag tot Stil Saterdag – die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, is dit ’n tydperk van 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Sondae was nog altyd vieringsdae vir die kerk en daarom nie deel van die vastyd van Lydenstyd nie. Lydenstyd help ons om die ware betekenis van Jesus se opstanding te begryp omdat ons onsself herinner aan sy lyding wat dit voorafgegaan het. Lydenstyd begin op Aswoensdag. Op hierdie dag is die gebruik dat ons spesifiek nadink oor ons sterflikheid en ons sonde. Aswoensdag, en Lydenstyd wat daarop volg, is tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing in die lewe van gelowiges en gemeentes.

Vroeg in die kerk se geskiedenis het Christene die 40 dae voor Paassondag gebruik om hulle geestelik voor te berei vir die herdenking van die groot gebeure van Jesus se kruisiging en opstanding. Tradisioneel is dit ’n tyd van opoffering, om iets van Jesus se swaarkry aan ons eie lyf te voel. Baie Christene weerhou hulle in hierdie voorbereidingstyd van sekere dinge, soos vleis, suiker of sosiale media, as simbool van opoffering ter voorbereiding vir die Paasnaweek. Ons beleef gestrooptheid en dink aan ons eie verganklikheid. In baie kerke is dit die gebruik om op As-Woensdag met as ’n kol of kruisie op jou voorkop te ontvang. Die as word gewoonlik gemaak van die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag. Dus – van “Hosanna!” (palmtakke) na “Kruisig Hom!”

Ons hou nie daarvan om herinner te word aan ons eie verganklikheid nie. Om die waarheid te sê, ons kry dit elke nou en dan amper reg om ons verganklikheid en pyn van menswees te vergeet. Ons wil dikwels graag ontken dat dit deel is van wie ons is. Tog, al onderdruk ons dit of probeer ons daarvan vergeet, leef ons elke dag daarmee saam. Ons is broos en kwesbaar. Aan die einde van die skeppingsverhaal staan daar in Genesis 3:19 “Stof is jy, en jy sal weer stof word”.

Daarom nooi ons jou ook graag uit om dit saam met ons te beleef met al jou sintuie. Ons Lydenstyd reeks tydens hierdie tyd word genoem: Jesus ruik na mirre en stof. Ons gaan elke Sondag oor ’n spesifieke tema preek en dan word jy ook uitgenooi om op Dinsdae aande by die kerk in te skakel met jou huidige kleingroep of indien jy graag wil inskakel by een sal jy aan een toegeken word vir die dieper reis.

Gebed: Here, vorm my en maak my net soos U wil. Amen.