Dagstuk | Maandag 15 Desember 2025

Dagstuk | Saterdag 13 Desember 2025
Dagstuk | Dinsdag 16 Desember 2025

Goeiedag. Teen die einde van die jaar het ek gedink om enkele tekste te lees wat die afgelope paar maande vir my besondere waarde ingehou het.

Galasiërs 5:6
“In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde in dade oorgaan. Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? Wie het julle omgepraat? Nie God nie.”

Ek het hierdie jaar baie nagedink oor die vraag wat werklik van belang is, en of ons wel die verskil kan onderskei. Ons regverdig maklik ons optrede deur te sê dat ons nougeset volgens Bybelse beginsels leef en daarom met die regte dinge besig is. Tog is ons dikwels blind vir die feit dat die Here ons tot nog dieper insig wil lei. Dit bring ons by die ervaring van die teks in Matteus 5:20, waar Jesus sê: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die Fariseërs nie, sal julle nooit die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Wat is daardie “meer”?
Paulus se opmerking in vandag se teks het uit sy eie ontnugtering gekom. Sy sterk godsdienstige oortuigings het skielik hul waarde verloor. Christus se genade en liefde het sy lewe herdefinieer en hom tot die gevolgtrekking gebring: “Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde in dade oorgaan.”

Kom ons hierby uit?
Wie of wat verhinder ons?
Hoe praat vandag se teks met jou oor wat gehoorsaamheid aan God beteken?
Hoe is die Here se genade en liefde prakties besig om jou sin van lewe te herdefinieer?


Gebed

Here, U Woord leer ons
dat dit nie ons uiterlike prestasies is wat saak maak nie,
maar geloof wat deur liefde werksaam is.

Help ons om stil te word voor U,
sodat U Gees ons kan wys
wat in ons lewens werklik belangrik is.

Bewaar ons van dinge wat net geraas maak
maar geen vrug dra nie.

Gee ons ’n hart wat U liefde eerste soek,
’n gees wat kan onderskei tussen noodsaaklik en onnodig,
en ’n lewe wat gevorm word deur geloof, hoop en liefde.

Laat ons wandel in die vryheid wat Christus bring,
en laat alles wat ons doen gewortel wees
in U liefde vir ons
en in ons liefde vir ander.

Amen.