Dagstuk | Maandag 19 Februarie 2024

Dagstuk | Dinsdag 20 Februarie 2024
Dagstuk | Saterdag 17 Februarie 2024

Goeie dag. Dit is ‘n nuwe week en so stadig maar seker beweeg 2024 ook aan. Ons is dan ook nou binne Lydenstyd in die kerklike jaar. Lydenstyd is vir my altyd ‘n tyd van stilwees en ootmoed. Daarom wil ek hierdie week met jou gesels rondom die waarde van stilte en alleentyd saam met die Here. Stilte en alleentyd het groot waarde. Mag jy hierdie week tyd kry om elke dag ‘n paar oomblikke doelbewus stil te word en die waarde daarvan te besef.

Teks: Jesaja 30:15

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

GEDAGTE

Lees dit weer: Julle krag lê in stil wees en vertroue. Herdie is soms vir ons ‘n uitdaging. Het ons dalk verleer om stil te word voor die Here?  Kan ons nog op die Here wag? Kan ons nog stilword by die Here?

Die woord vir stil wees in Hebreeus beteken rus – kalm, op jou gemak, vry van alle angs. Nie baie Christene besit hierdie soort stil wees en vertroue wat hier beskryf word nie. Menigte van ons hardloop rond agter verskeie aktiwiteite aan en is in ‘n malle gejaag na rykdom, besittings en plesiere. Dit lyk of almal soek na oplossings, leiding en iets om hulle gees te kalmeer, maar hulle soek dit egter by allerhande ander bronne as by die Here. Maar God het reeds ‘n woord deur Jesaja tot ons gespreek vandag Hy moet die bron van ons krag en lewe wees.

Stel opnuut jou vertroue op die Here, wag vir die Here om dinge in jou lewe reg te maak op sy tyd.  Hoekom? Omdat ons sekerheid van ons verlossing in Christus het, moet ons leer om stil te wees en om op God se tyd te wag.  Sy beloftes staan vas, Hy is gretig om ons genadig te wees en Hom oor ons te ontferm.  Ons krag is nie in self nie- maar dat ons op die Here kan wag.

GEBED

Here ek sukkel om stil te wees en te vertrou. Ek wil altyd dinge in eie hande hanteer. Leer my om in stilte op U te wag. Amen