Goeiedag, ek wil graag hierdie week in jou ore mediteer oor ’n lewensingesteldheid wat ’n mens kan help om gelukkig te wees. Soms dink mense jy kan net gelukkig wees as jou lewenspad ’n snelweg is. Hierdie soort geluk is egter ook beskikbaar en eg op die voetpad deur die oerwoud van menswees. Dit is die soort geluk wat jou hart en sinne bewaar, al loop die trane van seerkry hulle eie paadjie oor jou wange.
Alle mense wil graag gelukkig wees, tog leef ’n groot deel van die mensdom met ’n onvervulde hart. Self weet hulle nie hoe om die wonderbare geluk van ’n sinvolle lewe te vind nie. Dit verhoed hulle natuurlik nie om vir ons te verduidelik hoe ons gelukkig kan wees nie. Onkunde het nog nooit iemand ontmoedig om vrymoediglik raad uit te deel nie. Daarom is YouTube, tydskrifte, TikTok en TV vol van verwaande voorsêers wat verduidelik en vertel wat jy moet koop, doen of dink om die andersins ontwykend betekenisvolle lewe te gryp en joune te maak. Maar hulle lei jou netjies aan die neus, en die paadjie wat hulle vir jou met soveel eiewysheid wys, loop meestal op ontnugtering uit.
Só verduidelik die wysheidsleraar in Psalm 1 dit vir ons.
Hierdie Psalm begin met ’n verwonderde uitroep oor ’n mens wat gelukkig is. Jy moet die Psalm eintlik altyd hardop lees (volgens die Psalm is dit in elk geval wat jy met die Bybel moet doen). Nou nie luidrugtig hardop nie—prewelend is hardop genoeg. Jy moet die teks kan hóór!
Wanneer jy die Psalm hardop lees, mag jy die eerste woorde nie met ’n dooie stem lees nie: “Gelukkig is die mens …” Psalm 1 is nie in ’n mineurtoonaard geskryf nie; sy toon is in majeur—byna soos die ouverture tot ’n opgewekte Mozart-opera (soos byvoorbeeld Die huwelik van Figaro). Tussen hakies: Psalm 1 word gereken as die ouverture tot die hele Psalmbundel.
Ons gaan met elkeen van die dagstukkies die hele Psalm lees, want die dagstukkies is soos die brokkies van ’n legkaart. Die hele Psalm is soos die prentjie op die boks. Jy het die prentjie nodig as jy die brokkies op die regte plek bymekaar wil laat inpas. Vandag se brokkie is net om te sê dat ware geluk alles daarmee te make het dat jy ’n oordeelsvermoë ontwikkel om te weet wat goeie raad en wat slegte raad is.
Kom ons lees die Psalm en bid dan saam. Ons gaan ook hierdie selfde gebed elke dag van hierdie week bid.
Skriflesing: Psalm 1
Gebed: Here, gee vir ons geheiligde ore om mee te hoor, en vorm ons denke deur u Woord, sodat ons ware geluk kan hê en met insig vrugbaar kan lewe. Amen.