Dagstuk | Maandag 21 April 2025

Dagstuk | Vrydag 18 April 2025
Dagstuk | Dinsdag 22 April 2025

Matteus 28:5-6

Toe sê die Engel vir die vroue: Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie want Hy is uit die dood opgewek. Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

Gister was Paassondag waartydens ons die opstanding van Jesus Christus herdenk het. En in die volgende paar weke wat voorlê word ons herinner aan die belofte van nuwe lewe wat Jesus se opstanding vir ons bring. Die belofte loop egter nou saam met die ervarings van vrees en hoop. In die teksgedeelte is Jesus is weg, maar indieselfde oomblik skielik ook teenwoordig. Die vroue is bly oor die nuus van sy opstanding, maar oorweldig deur die gebeurtenis daarvan. Hulle kan nie die omvang van die gebeurtenis verstaan nie,  maar hulle het dit in vertroue  omarm.

Ons ken die storie van Jesus se opstanding en het weer hierdie jaar die ervaring daarvan herleef. En terwyl ons dit herdenk het, leef ons ook soos die vroue tussen vrees en hoop. Ons verstaan dat Jesus uit die dood opgestaan het en dit kom oorwin het, maar ons is uitgelewer aan die realiteite daarvan. Ons leef elke dag in die angs en spanning daarvan en hoop op ‘n tyd waar ons van dood bevry sal word. Paasfees bring ons in ‘n tyd om Jesus se opstanding te omarm. Dit nooi ons om Jesus se opstanding te beleef en God wat self hier is toe te laat om die geheimenis daarvan vandag vir ons oop te sluit. Dit is die gees van Paasfeestyd wat in die volgende paar weke na Jesus se opstanding vir ons aanbreek.

 

Gebed

Ons nader U vandag met diep dankbaarheid en blydskap in ons harte, want ons vier die opstanding van U Seun, Jesus Christus. Ons is vervul met verwondering oor die grootheid van hierdie wonderwerk, wat die grille van die dood oorwin het en ons die belofte van ewige lewe geskenk het.

Here Jesus, ons loof U dat U die las van ons sondes gedra het, dat U die dood getrotseer en die graf oorwin het. U opstanding is die volle bewys van U krag en liefde, en herinner ons daaraan dat niks ons van U liefde kan skei nie. Dankie dat U ons Redder en Leidsman is in elke aspek van ons lewens. Vader, mag die krag van U opstanding ons daaglikse lewens aanraak en transformeer. Mag ons altyd onthou dat U altyd by ons is, deur alle storms en seisoene van ons lewens. Gee ons die moed en krag om te lewe soos opgestane mense, vas in ons geloof en onveranderlik in ons hoop. Amen.