Teksvers Matteus 5:43
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.
In refleksie op hierdie gedeelte word ek herinner aan die Corrymeela gemeenskap in Noord-Ierland. ‘n Gemeenskap wat ruimtes skep waar mense van verskillende godsdienstige agtergronde mekaar ontmoet en hulle stories deel met die hoop dat iewers in die gesprek mense wat skynbaar “vyande” is nader aan mekaar kan kom en selfs lief raak vir mekaar. Die vraag waarmee hulle werk is “how to live well together”. Ek dink dat baie van ons met dieselfde vraag stoei. Hoe kan ons op ‘n gesonde manier saam wees. Dit beteken nie dat ons oor alles moet saamstem nie, of dat dinge altyd perfek moet wees nie. Ek dink dit beteken wel om nooit op te gee op die hoop dat liefde verder kan strek as net vriende en naastes nie. Dat liefde verder strek, na vreemdelinge en selfs vyande.
Hoe kan ons deel wees van hierdie tipe liefde waar ons minder praat en meer luister. Jesus praat hier met mense wat deel is van ‘n ou patroon van haat en vrees en daag hulle uit om ‘n alternatief te oorweeg. Om selfs mense lief te he wat soos vyande voel, om ‘n nuwe manier van saamwees te vorm. Mag ons besig bly met dieselfde vraag.