Hierdie week gaan ons in die Psalms wandel. Ek het hierdie ritme gekies omdat die boodskap van die Psalms direk, persoonlik, eenvoudig en prakties is. In die onstuimigheid van internasionale en plaaslike politiek en persoonlike uitdagings wat ons lewens raak, help dit ons om deur die verwarring en onsekerheid van ons tyd te breek.
Psalm 1:1-3. Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.
Ons koppel die verwysing na “woord van die Here” aan die Bybel. Dit laat my dink aan die kinderliedjie: “Lees jou Bybel bid elke dag, want dit gee jou krag”. In hierdie geestelike dissipline lê daar egter meer opgesluit as net lees. In die tyd wat die Psalms geskryf is was die meeste gelowiges ongeletterd. Psalms is eerder gesing en voorgedra en het gelowiges op ‘n ander vlak met God gekonnekteer soos wat die lewe hulle by plekke van uitbundigheid en verlies uitgebring het (lof- en klaag- Psalms). Terwyl ‘n mens so deur die Psalms lees kan jy in die teks gelowiges sien wat kniel, buig, met hulle hande uitgestrek plat op die grond lê, hulle hande na die hemel opgelig terwyl hulle God prys of ‘n klaaglied sing. Dit is waarna die Psalms ons wil uitnooi. Wat sou dit dus beteken om die woord van God dag en nag te oordink? Dit is besonders om jou dag te begin en af te sluit deur ‘n gedeelte in die Bybel te lees wat jou gedagtes op God fokus, maar tussen in bly dit belangrik om in die midde van jou dag en die uitdagings wat oor jou pad mag kom gedurig God te oordink en dit met jou lyf te kan beliggaam. Lig jou kop op na die berge/heuwels wat jou omring, kyk op na die hemel, maak jou oë toe, vou jou hande in dankbaarheid, buig of kniel in afhanklikheid en raak bewus hoe die Here jou vandag omring. Ervaar hoe dit jou help om dit wat vandag wesenlik is te onderskei.
Gebed
Ek roem U, God van baie name! Die God van die stralende son en die bodemlose dieptes en onbereikbare hoogtes. Wysheid sonder einde, genade sonder grense. U liefde wat deur alles dring en u majesteit wat alle aardse koninkryk oorskry. Dankie dat u grootheid my vandag van alle kante omring en dring.
Amen.