Dagstuk | Maandag 29 April 2024

Dagstuk | Dinsdag 30 April 2024
Dagstuk | Saterdag 27 April 2024

Vandag is Maandag 29 April en hierdie week is ons baie opgewonde om die bekende Hettie Brittz komende Sondagaand om 19:00 by Stellenberg-gemeente te ontvang met haar boek wat verwerk is met die tema: Kweek kinders met karakter. Dus gaan ons die week saam op reis opsoek na Bybelse waarhede en wyshede oor karaktervorming binne ons eie lewens.

Spreuke 22:6 “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie”.

Daar word gesê dat ‘n predikant eintlik net een preek deur die loop van sy hele lewe gee. Ja, Sondag na Sondag staan hy, of sy, voor die kansel met ‘n ander preek tema en teks van die dag, maar onderliggend is daar altyd daardie eiesoortige onderliggende tema. Teen die tyd behoort Stellenberg-gemeente al te weet dat ek lief daarvoor is om tafelteologie te verkondig. Jy sien die tafel is die plek waar identiteit gevorm word. Die tafel is die plek waar taal gevorm word. Die tafel is die plek waar emosionele inteligensie gevorm word deur die deel van stories en die dialoog van emosies. Daar is selfs statistieke wat sê dat as kinders en families ten minste drie keer ‘n week saam aan tafel eet, kinders akademies beter presteer. Daarom my oproep: Bring die tafel terug! Terug na ons huise toe. Terug na ons families. Terug na ons kerk. Terug na ons gemeenskappe.

Wanneer ons verbrokkeling in ons samelewing, huisgesinne, kerke en gemeenskappe sien dan is dit heelwaarskynlik weens geestelike en emosionele ongesondheid. Verskeie simptome speel dan uit in ons samelewing as gevolg van die gejaagdheid van die lewe, ‘n afwesige ouer, tafeltyd wat gesteel word omrede ons kinders nog laat aande op die sportveld is, inplaas van teen die tafel.

Wysheid: Elke oomblik tel: Elke interaksie met jou kind bied ‘n geleentheid om karaktervorming te bevorder. Selfs die kleinste daaglikse gebeurtenisse kan ‘n groot impak hê op hul karakterontwikkeling.

Dink ‘n bietjie oor jou eie karaktereienskappe. Hoe sal jy dit beskryf? Hoe en deur wie is dit gevorm? As ek die vraag sou vra van wat droom ons vir ons kinders se geestelike lewens? Dan moet ons dit ook vir onsself vra . . . Wat droom jy vir jou eie geestelike lewe? Dit het direk ’n impak op jou kartervorming.

Gebed: Here, mag ons en ons kinders se harte gevul word met u liefde. Laat dit liefde wees wat diep wortel skiet en vrugte van goedheid, vriendelikheid en medelye dra. Help ons met ons karakter wat ’n weerspieëling is van ons verhouding en intimiteit met U. Amen.