Dagstuk | Maandag 3 Februarie 2025

Dagstuk | Saterdag 1 Februarie 2025
Dagstuk | Dinsdag 4 Februarie 2025

https://youtu.be/8yIPmq3fZbQ

TEMA: VRUG VAN DIE GEES: LIEFDE

TEKS: Galsiërs 5:22 (1953 vertaling) :  22Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

BOODSKAP

Wanneer Paulus in Galasiërs 5:22 oor die vrug van die Gees vir ons skryf, begin hy met die liefde. Die Heilige Gees wil graag dat elke Christen liefde uitstraal. Johannes skryf selfs dat ’n ware Christen aan die liefde geken kan word. Waarom noem Paulus die liefde eerste? As ’n mens kyk na die ander deugde wat genoem word, dan sien jy dat daardie deugde eintlik deel van die liefde is. Woorde soos lankmoedigheid, vriendelikheid en sagmoedigheid is tipies woorde wat pas by die liefde soos dit in 1 Korintiërs 13 en ander dele van die Bybel beskryf word.

Ons plaas dikwels meer klem op geloof en werke as op liefde. Die feit is dat werke en geloof moet op liefde gebaseer wees. Wanneer ons goeie dade doen moet dit uit liefde en nie uit plig wees nie. Wanneer ons lofsange vir die Here sing, moet dit uit liefde vir Hom wees en nie omdat dit ons plig is nie. Die liefde is die wortel waaruit die ander vrugte groei. Die liefde is die belangrikste Christelike deug. Liefde word selfs die vervulling van die wet genoem. Al die ander deugde is so te sê ’n uitwerking van die liefde.

In die Bybel word daar na drie verskillende tipes liefde verwys. Daar is die Griekse woord phileo wat broederlike liefde is. Daar is ook die Griekse woord eros wat verwys na die passievolle liefde. En dan is daar die Griekse woord agape wat die liefde is wat God vir ons het. Dit is die kragtigste van die drie liefdes en dit is die liefde waarna Johannes 13:34 verwys. Ons moet mekaar liefhê met dieselfde liefde waarmee God ons liefhet.

Agape is die liefde wat onselfsugtig gee sonder om iets terug te verwag, dit is ‘n onvoorwaardelike liefde. Agape is ‘n liefde wat meer na die wil as die emosie verwys. Agape beskryf God se onvoorwaardelike liefde vir die wêreld. Dit is nie per toeval dat dit die eerste eienskap is in die lys van die vrug van die Gees nie. Indien ons Jesus se gebod om mekaar lief te hê onderhou, sal die res wat ons beveel word om te doen volg. Deur ons liefde sal hulle ons as Christene erken.

GEBED

‘n Gebed om Liefde

Vader, dankie dat U my gewys het hoe ware liefde daar uitsien. Maak my asseblief volmaak in U liefde. Wys my waar ek selfsugtig is, my eie belange bevorder en maklik kwaad word, sodat ek daardie dinge aan U kan oorgee en U toelaat om daardie eienskappe deur u onbaatsugtige liefde te vervang. Herskep my in iemand wat ander liefhet net soos U my liefhet. In die Naam van Jesus, amen.