TEKS: Filippense 3:13-14: Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.
Tydens Paulus se ontmoeting met Jesus Christus op die Damaskuspad, het God hom ’n nuwe naam en ’n nuwe lewe gegee. Hy het behoorlik ’n nuwe blaadjie omgeslaan. Paulus sê vandat hy Jesus ontdek het, is sekere dinge nie meer vir hom so belangrik nie. Die dinge waarna Paulus vroeër verwys het -goeie familie, uiterlike verbintenisse en toewyding – is nie opsigself waardeloos nie, maar dit vervaag in belangrikheid in die lig van Christus Jesus. Daarom skryf Paulus in verse 13-14: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”
So aan die vooraand van ‘n nuwe jaar, is dit nodig dat ek en jy ook ons lewens in oënskou neem. Wat is die dinge wat ons so onnodig saam met ons sleep wat die lewe vir ons so ondraaglik maak. Waaraan dra jy so swaar? Wat is die dinge wat jy liewer moet laat staan, omdat dit jou lewensreis net moeiliker en onsmaaklik maak? Dalk is dit ook nodig dat jy ’n nuwe blaadjie omslaan. Begin die nuwe jaar op ‘n skoon en nuwe bladsy en los al die onsmaaklike dinge soos Paulus agter jou.
Hemelse Vader. Die jaar se asem is bykans op en 2024 is amper verby. Teen die spoed van een-dag-op-’n-slag het 2024 voor ons oë verbygesnel. Ons dank U, Here, dat U op soveel verskillende maniere gedurende die afgelope jaar in ons midde teenwoordig was: Op wonderlike maniere het U u vingerafdrukke op ons lewens agtergelaat in 2024. Ons dank U daarvoor. AMEN (Nav Jaco se Bybelkoerant)