Dagstuk | Maandag 31 Maart 2025

Dagstuk | Saterdag 29 Maart 2025
Dagstuk | Dinsdag 1 April 2025

2 Tessalonisense 3: 16

Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle wees!

Daar is ‘n ou ritueel in ons tradisie waar as die eerste gelowiges mekaar gegroet het, hulle die woorde gebruik het: “Mag die vrede van God altyd by julle wees”. Die Hebreuse woord vir vrede was Shalom, wat beteken het harmonie, of heelheid. Die eerste gelowiges het geglo dat Jesus, die Shalom van God beliggaam het. En dat Jesus kom wys het hoe God se Shalom, God se harmonie en God se heelheid lyk. Mag hierdie antieke seënwens ook die seën wees wat ons vandag van God ontvang. Mag ons dit oor onsself uitspreek en onsself uitstrek na die uitnodiging om in harmonie en heelheid met God en met onsself te leef. Mag ons dan, terwyl ons onsself inleef in hierdie ou antieke seën, dit ook uitspreek oor almal wat oor ons pad kom.

Gebed

Bidplek deur Koos van der Merwe

toe ek vanoggend in u lig kom sit

toe ek stamelend by u voete bid

toe ek soekend deur u boek kom blaai

en donkerwinde in my waai

toe ek dors en honger brood kom vra

en my kla en sonde na die bidplek dra

kon ek ooit vermoed dat hier alleen

deurboorde hande my sou seën

dat hier in my gebrokenheid

ek deel sou word van heiligheid?

ek wil weer in u lig kom sit

en by deurboorde voete bid

en soekend deur u boek kom blaai

waar hemelwinde oor my waai