Hierdie week reflekteer ons oor tekste uit die verhaal van Jona, wat ons nooi om ons denke te vernuwe – om anders te dink oor die mense rondom ons. Wanneer ons reflekteer oor Stellenberg se vierde waarde, om voortdurend te vernuwe, besef ons dat vernuwing dikwels in die eerste plek oor ons eie harte gaan. Die verhaal van Jona is by uitstek ’n voorbeeld hiervan. Die verhaal van Jona word op ’n komiese manier vertel, dalk om ons bewus te maak van die belaglikheid van ons eie harte.
1Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”
3Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ‘n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.
Die verhaal van Jona begin onmiddellik komies, met die Here wat vir Jona roep om in een rigting te gaan en Jona wat in die teenoorgestelde rigting wegvlug – weg van die Here af. Vir ons wat die verhaal hoor, klink dit belaglik, want hoe kan Jona moontlik wegvlug van die God van die hemele wat die see en die aarde gemaak het, soos Jona homself as dienaar van hierdie Here beskryf in 1:9. Die frase “weg van die Here af” word twee keer herhaal om dit nog duideliker te maak wat Jona probeer doen.
Hier aan die begin van die verhaal weet ons nog nie hoekom Jona nie na die Here wil luister nie, maar ons weet dat die Here hom na Nineve stuur, die hoofstad van Israel se grootste vyand Assirië. Jona word gestuur na die een plek wat hy ten alle koste wil vermy.
Die verhaal van Jona is telkens soos ’n spieël wat voor ons opgehou word en ons nooi om onsself in die karakter van Jona te sien. Hier aan die begin van die verhaal word ons gekonfronteer met die vraag:
Waarheen roep die Here my en hoe vlug ek weg daarvan af?
Wat is die plekke of mense wat ek eintlik wil vermy? Met wie weet ek moet ek gaan vrede maak, maar soek ek enige verskoning om dit te vermy? Waarmee hou ek myself besig, dalk as ’n rede om te vermy waarheen ek weet die Here my roep?
Raak vandag bewus van die maniere wat jy gebruik om van die stem van die Here weg te vlug. Lag saam oor die komiese reaksie van Jona wat vir die Here probeer wegvlug, maar gebruik dit ook as ’n spieël om die eintlik belaglike maniere raak te sien waarop ons ook probeer wegvlug van die Here se stem.
Here, U roep ons na plekke waarheen ons eintlik nie wil gaan nie. Oor grense heen na plekke en mense wat ek eintlik wil vermy. Oor grense heen na plekke in myself waarvan ek nie hou nie. En dan vlug ons so maklik weg. Here, maak ons vandag bewus van U stem en waarheen U ons roep en maak ons bewus van die plekke waarheen ons vlug. Dankie, Here, dat U ons ook kom haal, waar ook al ons vlug.
Amen