Dagstuk | Maandag 6 Januarie 2025

Dagstuk | Saterdag 4 Januarie 2025
Dagstuk | Dinsdag 7 Januarie 2025

Na Kersfees breek die tyd van die jaar aan wat ons Epifanie noem. Die woord beteken ‘verskyn’ en het in ons kerktradisie te doen met die gebruik om na Kersfees oor Jesus se verskyning as mens na te dink. In die komende week se dagstukkies gaan ons dus stilstaan by die wyse waarop God in ons menswees verskyn.

Johannes 4:23

Maar sal ‘n tyd kom en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.

Iemand het eens gesê: Truth is not for comfort, it’s for liberation. Dat Jesus vir ons gebore is en in ons eie menswees kom verskyn is ‘n wonderlike troos en verseker ons van sy nabyheid. Maar Jesus se verskyning bring ook ‘n uitdagende realiteit wat ons nie altyd verreken nie: Jesus se menswees kom breek die waarheid vir ons oop. Dink vir ‘n oomblik aan die implikasie van hierdie verlossing. Dit neem ons gedurig oor die grense van wat ons dink ons weet. Johannes se teks laat ons verstaan dat God se waarheid iets anders is as om bloot ou waarhede te herhaal, of te verdedig. Dit is iets wat ons voortdurend moet onderskei en waaraan ons gestalte moet gee en waarin die Heilige Gees ons lei. ‘n Mens hoor dikwels Christene sê: Reg is reg en verkeerd is verkeerd. Wanneer ‘n mens dit hoor, klink dit asof die onderskeid maklik en duidelik is. Terwyl ons dikwels bereid is om vir dit wat reg is op te staan, kan ons skynbare regte optede ook tot onreg aanleiding gee. Die Heilige Gees help ons in hierdie verknorsing. Hoe is die Here se menswees besig om op hierdie manier aan jou te verskyn waar jy die waarheid in jou lewe moet onderskei? By watter verlossing bring dit jou vandag uit?

Gebed (verwerking van gebed deur C.S. Lewis)

O Here van die waarheid, bewaar my van geloofsnederlae, maar baie meer nog, bewaar my van die skynbare oorwinnings wat ek dink ek behaal omdat ek dink ek reg is. Van al die bewyse vir my standpunte wat ek so maklik uit die Bybel kan aanhaal en lank op kan uitryg, terwyl Uself geen sigbare teken gee nie. Bevry my tog van my arrogante gedagtes en gladde uitsprake oor U. O Here van stilte, van die smal poort en die naald se oog, breek met U Gees in my lewe om myself ander vry te kom maak. Amen.