Ek wil hierdie week met jou praat rondom tevredenheid.
Ons gaan by verskillende aspekte van tevredenheid stilstaan:
Teks: 1 Timoteus 6:7-8
6Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.
GEDAGTE: TEVREDE MET WAT JY BESIT
Koos du Plessis sing die volgende woorde in die lied: Gebed
Wat ek is is net genade,
wat ek het is net geleen,
eint’lik smag ek na U waters van rus,
lei my Heer vanaand daarheen.
Ons is gewoonlik nie tevrede met dit wat ons het nie en smag en begeer altyd na meer. Ons kyk so graag rond na wat ander het en wens ook heimlik dat ons so gelukkig kon wees, of dat ons ook dit of dat kan besit.
Vandag se vers wil ons innooi om tevrede te wees met wat jy het. Ja, daar is ander wat meer het, maar dink so daaraan: het jy al ooit ‘n tekort gely? Ek het nog nooit! Daar is nie altyd geld om alles nou dadelik te vermag nie, maar die Here dra ons met dit wat ons nodig het. “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Mattheus 6:25-26)
Hoe wys ons dat ons tevrede is. Ons lewe rustiger en ons sê dankie vir alles. As jy bevoorreg is om meer as genoeg te hê, wees dankbaar en tevrede en deel gerus uit en maak ’n verskil in ander se lewens. Dit is wat Jesus sou gedoen het.
GEBED
Here, ek wil vandag nie vra nie. Ek wil kom dankie sê vir alles wat ek uit u Vaderhand ontvang het.
Amen