Dagstuk | Saterdag 11 April 2026

Dagstuk | Vrydag 10 April 2026
Dagstuk | Maandag 13 April 2026

https://www.youtube.com/watch?v=4GpSgJcqCQQ

Johannes 20:21: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Die afgelope week was ons saam op ’n opwindende reis na verskeie plekke waar Jesus mense ontmoet het ná sy opstanding—hetsy by die oop graf waar Maria gehuil het, by sy dissipels wat bang agter geslote deure gesit het, of by die Emmausgangers met hul diepsinnige vrae en verwarring. Telkens het die lewende Jesus vir hulle opgedaag!

Ons het ook in die opstandingsverhale duidelik gesien dat daar ’n groot dringendheid is om te gaan vertel. Die eerste getuies van die oop graf het gehardloop om dit aan ander te vertel—om die boodskap uit te kry: “Die Here het opgestaan!” Ook vir Jesus was dit baie belangrik dat hierdie goeie nuus moet uitgaan; dit moet met almal gedeel word, sodat mense tot geloof in die opgestane Jesus kan kom. Dit raak reeds duidelik in sy eerste woorde (volgens Johannes se Evangelie) aan sy dissipels daardie betrokke Sondagaand: “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle!”

Ook sien ons in Handelinge 1 hoe Hy dit kort voor sy hemelvaart aan hulle herhaal: “Julle sal my getuies wees … oral … tot in die uithoeke van die wêreld!” As Jesus in die graf gebly het, as die dood Hom oorwin het, sou ons maar min gehad het om te gaan vertel. Maar sy opstanding verander die prentjie. Hy leef, Hy daag op vir ons en vir ’n stukkende wêreld. Hierdie blye boodskap moet uit!

Die verdere goeie nuus is dat Hy vir ons ’n Vennoot gee wat ons bekragtig om hierdie groot taak uit te voer. In die Johannes-teks sien ons dat, direk ná hierdie “uitstuur-opdrag”, Hy oor sy dissipels blaas en sê: “Ontvang die Heilige Gees.” Net so word hierdie vennootskap in die Handelinge-teks bevestig: “Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …”

Die opstandingsboodskap is onlosmaaklik verbind aan die mobilisering van sy volgelinge en kerk!

Is ons op koers met die opdrag en die goeie nuus? Die toets van ons kerk lê nie in geboue, strukture, finansies en ander sake wat vir ons dikwels so belangrik raak nie. Die ware toets is of ons, soos die opgestane Jesus se opdrag dit duidelik stel, ’n gestuurde gemeente is—gestuur om met dringendheid sy getuies te wees, sy boodskap uit te dra, en soos Hy op te daag vir mense in nood!

Gebed: Here, help my om weer te verstaan dat ek in ’n wêreld leef wat U baie nodig het. Help my ook om te besef dat U van my en my gemeente verwag om met dringendheid U boodskap in woord en daad uit te dra en uit te leef. Amen.