TEMA: Praktiese riglyne vir stilte tyd
TEKS: Deuteronomium 6:5 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.
Wanneer dit by stiltetyd kom, moet ek onthou dat dit oor ‘n lewendige verhouding met God gaan. Ek doen nie iets om iets anders te ontvang nie. Stiltetyd is nie ‘n transaksie nie – dit is heilige tyd, tyd afgesonder om ‘n verhouding met my God, die Skepper van die heelal, te bou.
Daarom moet my stiltetyd nie gesien word as ‘n daaglikse taak wat afgehandel moet word nie. Stiltetyd moet liewer gesien word as ‘n daaglikse afspraak met die liefde van my lewe.
Hier is praktiese riglyne om die beste te maak van jou stiltetyd:
Riglyn #1: Kies ‘n stil tyd en plek
Die area waar jy stiltetyd hou, moet uiteraard ‘n stil area wees en dit moet op ‘n tyd gebeur wanneer mense nie jou aandag gaan vereis nie. Alhoewel stiltetyd nooit net nog ‘n gewoonte mag word nie, is dit nodig om in die gewoonte te kom om ‘n gereelde plek en tyd te hê waar jy stiltetyd gaan hou.
Riglyn #2: Begin met stilte en afsondering. Nie net moet stiltetyd op ‘n stil tyd en plek gehou word nie, maar moet ek my hart ook stil maak. Neem 3 minute om stil te word waarin jy doelbewus jou gedagtes rig na die Here toe. Maak seker alles is stil, die selfoon is af en jou hart en gedagtes is nie gefokus op die dag se gebeure nie, maar op die Here.
Riglyn #3: Ontwikkel ‘n verwagting
‘n Mens kan maklik toelaat dat die gewoonte jou op “autopilot” sit in die lewe. Dit beroof jou van verwagting. Elke keer wanneer jy stiltetyd hou, moet jy met die verwagting kom en jou geestelik voorberei dat die Here jou werklik daar gaan ontmoet.
Riglyn #4: Hou vol
In plaas van om ‘n oggend een of twee ure stiltetyd te hê en dan vir maande niks te doen nie, probeer liewer om te begin met 15 minute, en dan soos jy groei in die Here, jou tyd meer te maak na 20 of 30 minute. Doen dit in ‘n tydgleuf wat vir jou hanteerbaar en volhoubaar is.
Riglyn #5: Pasop!
Onthou, stiltetyd is nie ‘n wet nie. Dit mag nooit vir jou ‘n las wees nie. As stiltetyd ‘n las is, doen jy dit verkeerd. Let daarop om jou tyd met die Here aan te pas by jou behoefte en die fase waarin jy in jou lewe is.
Vader, dankie dat ons in u Woord kan grawe. Here, help my om die waarde van om tyd met U te maak, te besef. Help my om dit nie te sien as ‘n aktiwiteit nie, maar liewer as ‘n ontmoeting met U. Vader, ek wil U beter leer ken. Ek is lief vir U en ek wil U dien met my hele hart. AMEN.