Dagstuk | Saterdag 13 Januarie 2024

Dagstuk | Maandag 15 Januarie 2024
Dagstuk | Vrydag 12 Januarie 2024

Vandag is Saterdag 13 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons noem Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:

Versorging van Verhoudings: Gee aandag aan die mense in jou lewe vir 2024. Koester gesonde en ondersteunende verhoudings. In ‘n wêreld waar tyd skaars is, is daar dikwels geen beter investering as om tyd en moeite in ander mense te belê nie. Dit is deur om in “koinonia” saam met ander te leef waar ons iets van God se hart vir ons en ander ontdek. Vier die lewe saam ander rondom die tafel in 2024. Bemoedig en bid vir mekaar.

Bybelteks: Efesiërs 4:2-3

“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe”.

Wysheid: Nederigheid en Diensbaarheid. Die sleutel tot die versorging van verhoudings begin met ‘n hart van nederigheid, sagmoedigheid, en lankmoedigheid. Hierdie eienskappe help om ‘n atmosfeer van liefde en vrede te skep. In hierdie daaglikse reis van versorging, is ons geroep om moeite te doen vir harmonie en eenheid. Laat ons elke dag onsself vra: “Hoe kan ek die eenheid van die Gees bewaar deur liefde en vrede in hierdie verhouding?” Laat liefde die gids wees en vrede die anker terwyl ons versorging bring aan die mense om ons heen deur diensbaar te wees. Sodoende word God verheerlik en openbaar ons Sy liefde soos Hy vir ons die voorbeeld kom stel het hier op aarde.

Gebed: Here, dankie vir die gawe van verhoudings. Ons bid vir U leiding en genade om hierdie verhoudings met sorg te versorg. Help my om ‘n hart van nederigheid en sagmoedigheid te hê, en gee my die geduld om lankmoedig met ander te wees. Mag ek, deur U krag, ‘n aktiewe rol speel om die eenheid van die Gees te bewaar deur liefde en vrede in my verhoudings. Amen.